Nog ʼn polisiebeampte doodgeskiet

ʼn Polisiebeampte wat 18 jaar lank by die Mount Fletcher-polisiestasie in die Oos-Kaap werksaam was, is Sondag in sy huis dood aangetref.

Adjudant-offisier Khanyisile Gwanisheni (44) se liggaam is Sondagoggend omstreeks 06:00 deur kollegas by sy huis in die Katlehong-informele nedersetting gekry.

“Hulle het gaan ondersoek instel nadat Gwanisheni nie vir diens opgedaag het nie. Toe hulle by sy huis aankom het hulle verskeie huishoudelike items buite sy huis aangetref en sy kamerdeur was ook oop,” het Brigadier Marinda Mills gesê.

Mills sê daar was tekens van ʼn worsteling. Sy liggaam is op sy bed gevind. Hy is drie keer in sy bolyf geskiet. Sy dienspistool word vermis.

Maroela Media het verlede week berig adjudant-offisier Pieter Roux is in die Wes-Kaap tydens ʼn rooftog doodgeskiet op dieselfde dag wat ʼn Tshwane-metropolisiebeampte by ʼn winkelsentrum in die noorde van Pretoria doodgeskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.