Nog ʼn polisiebeampte vas ná moord op Bloem-sakeman

Louis Siemens. Foto: Facebook

Nog ʼn polisiebeampte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Louis Siemens, ʼn Bloemfonteinse sakeman.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisiekaptein is Vrydag in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn.

Dit is die derde polisiebeampte wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Siemens, besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal. Siemens is op 10 Mei kort ná 15:00 in die kelderparkeerterrein van die Prellerplein-winkelsentrum in dié stad doodgeskiet.

Die ander twee polisiebeamptes is konst. Molebatsi John Mogoera (40) en konst. Kagisho Ishmael Chabene (39). Mogoera is ʼn speurder van die Bayswater-polisiestasie en Chabane is ʼn hofordonnans in Bloemfontein.

Die drie polisiebeamptes sal nou saam met Kibi Stanley Bakili (36), vermeende baasbrein, verder tereg staan vir die moord op Siemens.

Xolisile Mbebeto (38) is vroeër die maand in die hooggeregshof in Bloemfontein vir die moord op Siemens gevonnis.

Mbebeto is tot 22 jaar tronkstraf gevonnis vir moord, tien jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie. Van die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word, wat beteken Mbebeto is tot effektief 22 jaar tronkstraf gevonnis.

Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom dat Mbebeto vier dae voor die moord op Siemens met Bakili (36) verrgader het waar ʼn ooreenkoms aangegaan is vir die moord. Bakili het glo onderneem om Mbebeto R200 000 vir die moord te betaal.

Op die dag van die moord is Mbebeto en nog ʼn medebeskuldigde na die Prellerplein-winkelsentrum waar die medebeskuldigde Siemens glo uit sy motor geruk het voordat Mbebeto hom doodgeskiet het.

Hulle het hierna in ʼn wit Polo van die toneel gevlug voordat hulle Bakili ontmoet het. Bakili het vir hulle die sleutel van ʼn hotelkamer gegee waarna hulle niks weer van hom gehoor het of hul geld ontvang het nie.

Bakili het tydens vorige verskynings aan die hof gesê hy het ʼn ontmoeting met Siemens gehad kort voor die moord en hulle het ook op dié dag teksboodskappe vir mekaar gestuur. Bakili was ʼn sakevennoot van Siemens.

Daar is onmiddellik ná die moord op Siemens berig dat hy tydens ʼn oënskynlike sluipmoordaanval doodgeskiet is.

Siemens het sy vrou en twee kinders agtergelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Alida ·

Verleentheid vir SAPD. Mens is banger vir hulle as vir die kriminele.

Cherokee ·

Alida, wat jy eintlik bedoel om te sê, is dat mense banger is vir hulle as vir ander kriminele.

Hoc est bellum ·

Hulle is onderskeidelik 39 en 40 jaar oud en nog steeds konstabels. Met ander woorde, hulle was nooit bevorder nie. Wonder waarom?

Alida ·

Dit was werksskepping aanstellings. Geen integriteit of toetse geslaag nie en nog minder opleiding gehad.

Raka ·

Ek as polisieman sak my kop in skaamte vir die 3 lede wat medepligtig aan die moorde is.

Dis ‘n skreinde skande.

Alida ·

Raka ja ek hoor jou en dit is teleurstellend. Die regering skep werk en dan kry jy sulke gemors. In my jong dae het jy ontsag gehad vir die polisie en kon hulle vertrou. Jammer vir julle regte SAPD lede.

Piet ·

Raka jy hoef jou kop vir niemand te laat sak nie. As jy n regstellende aksie pos het, ja dan kan jy maar skaam kry, want dan verdien jy die nie. Dis mos nie die goeie plant se skuld dat die oliebome en kakibos hom versmoor nie. Hier is ook duisende klein bossies wat dink hulle het geen effek nie. Dis tyd vir bietjie roundup!

Hanna Hoekom ·

Ek mag verkeerd wees, maar ons lees nou letterlik elke dag van n SAPS lid wat ernstige misdaad gepleeg het. Wat n siek spul is die SAPS nie! Hoe kry hierdie kriminele keuring? Of moet jy net swart wees? Innige simpatie aan die weduwee en haar twee kinders.

Johan H. ·

Trap die moegoes wat hulle aangestel het,Dankie vir die 0,5% eerlike polisie manne.

H.A. ·

Transformasie en regstellende aksie + R200 000 geld ! Hoe nou ? Die prentjie word net duideliker by die dag.

Pop ·

Die skande hier is, is dat iemand n .oord kan beplan, dit gaan uitvoer en dan kry hy 20 jr. Waarvan hy waarskynlik 10 sal sit. Skande skande en nogmaals skande.

Andrew ·

Alweer die Vrystaat, en amptelike mense daarby. Wie het hulle so opgelei?

Sanet ·

Bakili was n sake vennoot van Siemens, wonder wat se voordeel hy trek uit die moord op sy vennoot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.