Nóg ʼn polisiebeampte vermoor

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie is op die spoor van ʼn verdagte wat verbind word met die moord op ʼn 44-jarige polisiebeampte Dinsdag in Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Een van twee verdagtes is reeds in verband met die moord vasgetrek.

Volgens ʼn verklaring uitgereik deur die nasionale polisiekommissaris se kantoor het beamptes van die teenbende-eenheid op ʼn huisrooftog in Chimaerstraat, Port Elizabeth, gereageer. Met hul aankoms op die toneel het hulle die voertuig wat tydens die rooftog gesteel is, gewaar.

Die beamptes het in ʼn jaagtog die verdagtes in die voertuig agternagesit. Die verdagtes het langs die pad die voertuig verlaat en te voet gevlug. ʼn Skietery het tussen die beamptes en die verdagtes uitgebreek, waartydens die polisiebeampte raakgeskiet is. Hy het aan sy wonde beswyk.

Volgens die verklaring is ʼn 47-jarige verdagte in hegtenis geneem. Daar is beslag gelê op ʼn vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is. Die polisie het ook op die gesteelde voertuig, ʼn Nissan NP200-bakkie, ʼn televisiestel, selfone en ander items beslag gelê.

Die oorlede beampte se kollega het ná die skietery die tweede verdagte agternagesit. Hy kon egter daarin slaag om weg te kom. Genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het Woensdag ʼn 72 uur lange aktiveringsplan in werking gestel om dié verdagte wat steeds op vrye voet is, aan te keer.

Maroela Media het Dinsdag berig oor ʼn polisieman van Noordwes wie se liggaam op 29 Julie langs die pad naby Mahikeng gevind is. Die polisie het reeds tien verdagtes in verband met sy dood in hegtenis geneem.

Sitole het die beamptes geloof vir hul spoedige reaksie op die huisrooftog. Hy het die mees onlangse moord op die polisiebeampte veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.