Nog ʼn polisiebeampte vermoor

Argieffoto: SAPD

Die polisie het bekend gemaak dat nog ʼn polisiebeampte Dinsdag vermoor is.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die nasionale polisiekommissaris, het gesê ao. Bhekisigcino Zethembe Khwela (54) is Dinsdag omstreeks 19:30 buite ʼn huis in KwaNdengezi in KwaZulu-Natal vermoor.

Volgens Naidoo het Khwela, sy seun en ʼn vriend buite die huis gestaan en gesels toe minstens twee gewapende mans op hulle losgebrand het.

Khwela, ʼn speurder verbonde aan die polisiestasie op Marianhill, is op die toneel dood nadat hy verskeie kere geskiet is. Sy seun is gewond en die vriend het ongedeerd daarvan afgekom.

Dit volg ná die moord op kapt. Lumkile Wiseman Tyibilika (50) Woensdag omstreeks 2:30 in New Brighton in die Oos-Kaap. Dié beampte was verbonde aan die polisie se eenheid vir beskerming en veiligheidsdienste in King William’s Town en was net tydelik in New Brighton ontplooi.

Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie en word ondersoek. Die polisie se 72 uur-aksieplan is in albei gevalle geaktiveer. Dié plan behels die onmiddellike mobilisering van kritieke hulpbronne waaronder misdaadintelligensie, forensiese kenners, die Valke asook taktiese spanne.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die moorde ten sterkste veroordeel. “Die moord op ons twee kollegas is ʼn weerspieëling van wat die polisie op ʼn daaglikse basis moet trotseer.”

Sitole het gesê hy het die provinsiale kommissarisse in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal opdrag gegee om die maksimum hulpbronne in te span om die beamptes se moordenaars vas te trek en aan die pen te laat ry.

Enigiemand met inligting oor die voorvalle word versoek om 08600 10111 te skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Vraagteken ·

Ek sien dit gebeur gereeld dat mense wat kommentaar lewer die inhoud will draai om hulle argument te bevorder. Wys eerder net simpatie op die SAP-lede wat so vermoor word. Dit is immers JY wat eerste die polisie bel sodra daar moeilikheid by jou is. M.A.W. moenie ‘n coward wees nie.

Janee ·

En so “fail” julle ANC “government” sy eie staatsdiens ook. Dinge sal nooit beter gaan in SA vir solank as wat die ANC in beheer is van ons land nie.

Anoniem ·

Se maar liewer niks. Dis wetteloosheid all round dis nou jy maak my dood dan maak ek jou dood twyfel of hollywood n beter movie kan maak as wat in SA aangaan

marous ·

Straf toemeting is afgewater deur die heersers van die land om hulself en misdadige kaders skaamteloos toe te laat om te maak net wat hulle wil . Hulle het die regstelsel gereduseer tot ‘n jellie bak en selfs ‘n hoogste hof geskep vir ‘n laaste uitweg , vir in geval iemand dalk eendag teen hulle reageer . Die gewone mense is net soos die polisie uitgelewer aan hierdie spul wat geen gevoel het jeens enige iets behalwe hulself nie .

Lunsriem ·

My simpatie aan en meegevoel met die naasbestaandes.
Wanneer gaan die kommissaris opdrag gee dat “maksimum hulpbronne” ook ingespan word om plaasmoordenaars aan die pen te laat ry?

Mari ·

Polisie beamptes is ook ouers met familie Moenie harteloos in kommentaar wees nieq

Andries Strydom ·

Mari, Boere het ook ouers en is ook mense hoekom die ophef maak van die polisie maar nie van n’ boer nie ek vra maar net?

Vraagteken ·

Andries, daar word ook ‘n ophef gemaak sodra ‘n boer vermoor word! Hier word berig oor ‘n polisielid wat vermoor is, NIE ‘n boer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.