Nóg ʼn polisieman sterf aan diens

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Nog ʼn polisiebeampte van KwaZulu-Natal is doodgeskiet terwyl hy aan diens was, skaars ʼn week nadat ʼn polisievrou ook in die provinsie doodgeskiet is.

Volgens lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, is konst. Lindokuhle Backum (24), verbonde aan die Umkhanyakude-polisie, Dinsdag omstreeks 21:00 doodgeskiet.

“Die beampte en sy kollegas was op patrollie in die Makhonyeni-omgewing in Jozini toe hulle ʼn verdagte voertuig opgemerk het,” het Zwane gesê. “Die beamptes wou die voertuig van die pad af trek, waarna ʼn jaagtog ontstaan het.”

Die verdagtes het op die polisie losgebrand en Backum noodlottig in die nek gewond. Hulle het daarna van die toneel gevlug. ʼn Volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur.

Backum se dood volg op dié van konst. Ntombifikile Virginia Ndlovu (36), verlede Dinsdag in ʼn sakeroof in Ixopo.

Maroela Media het vroeër berig Ndlovu en ʼn 28-jarige kollega was op patrollie toe hulle op ʼn rooftog by ʼn supermark reageer het. ʼn Onbekende aantal verdagtes het op die beamptes losgebrand toe hulle by die toneel opgedaag het. Ndlovu is in die nek getref en is op die toneel dood. Haar kollega het wonde aan sy arm, maag en bors opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld in ʼn voertuig van die toneel gevlug.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die aanvalle op polisiebeampte streng veroordeel.

“Ons sal nie rus totdat diegene agter die aanvalle agter tralies is nie. Ons sal nie deur die boewe afgeskrik word nie en bly toegewyd daaraan om misdadigers vas te trek,” het Langa gesê.

Langa het namens die polisie se bestuur medelye betuig aan die slagoffers se vriende, familie en kollegas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Denise ·

Net so voel ek ook oor al die misdadigers wat elke dag onskuldige mense vermoor , verkrag en aanrand, dit raak nou net T veel iets drasties moet gebeur so kan dit nie aangan nie!!!

M1nks ·

Ek is baie jammer vir die familie wat se harte sekerlik onverstaanbaar seer is. Ek bid dat God julle in die moeilike tyd sal dra. Baie dankie vir elke polisieman/vrou wat daaglik hul lewe op die spel plaas om ons te beskerm.

Cherokee ·

In al soortgelyke berigte is daar altyd iemand wat die misdaad ‘streng veroordeel’. Wat beteken dit? Kritiek? Dien dit enige doel? Beslis beïndruk dit nie die misdadigers nie.

charlene ·

Met die klem op “NOG” Nog `n polisie beampte moet sterf om rede hulle niks mag doen, Nog `n polisie beampte moet sterf omrede hulle wapens het wat hulle nie mag gebruik nie, Nog `n polisie beampte moes stil staan sodat `n rower hulle kan skiet omrede alles “police brutality” Waar gaan dit stop, wanneer gaan dit stop. Die mans en vrouens plaas hulle lewens daagliks op die spel en vir wat??? Hulle het wapens wat nie gebruik mag word nie, hulle mag niks doen nie. Dis so verkeerd, die rowers in die land het meer reg as enige iets anders. Mag die families vrede vind en eendag verstaan hoekom die land sy mense so in die steek laat, en hoekom die land nie sy polisie mans en vroue kan beskerm nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.