Nóg ʼn Pretorianer tydens huisroof op kleinhoewe geskiet

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Skaars twee weke nadat Johann Heunis (43), van die Leeufontein-kleinhoewes in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, voor sy swanger vrou en drie dogtertjies vir ʼn selfoon doodgeskiet is, is ʼn 50-jarige man op ʼn naburige kleinhoewe tydens ʼn huisroof geskiet.

Corrie Henn (50) en sy verloofde, Yoalanda le Roux (42) sou aan die einde van die maand trek uit die huis wat hulle tans op die kleinhoewe langs Heunis s’n huur ná sy moord op 1 Oktober (lees meer hier). Die paartjie is Donderdagaand omstreek 20:00 deur drie gewapende mans in hul huis oorval.
Le Roux was besig om die honde in die kombuis kos te gee, terwyl Henn buite besig was om hul wasgoed af te haal.

“Corrie het met die wasgoedmandjie by die kombuisdeur ingekom en die wasgoed in die kamer gaan sit. Ons vermoed die drie mans het om die hoek gestaan en wag totdat hy in is, voordat hulle ingestorm het,” het Le Roux se kollega en vriendin, wat verkies om anoniem te bly, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Die mans het ʼn vuurwapen op Le Roux gerig en haar hande agter haar rug met kabelbinders vasgemaak. Hulle het haar hardhandig behandel en aangedring op geld.

Twee van die verdagtes het in die kamer op Henn afgestorm en ook ʼn vuurwapen op hom gerig en aangedring op geld. Hy is vasgebind, waarna die huis geplunder is. Die verdagtes het al hul buit, waaronder die paartjie se selfone, geld, beursies, juweliersware en klere, in Henn se werksmotor, ʼn silwer Lexus, gelaai.

“In ʼn stadium wou hulle Corrie in die kop skiet. Die vuurwapen wou egter nie vuur nie. Een van die mans het die vuurwapen weer oorgehaal, toe Corrie hom stormloop. ʼn Skoot het afgegaan en hom in die been getref.”

Die verdagtes het in die Lexus van die toneel gevlug, nadat hulle Le Roux aangerand het, sodat sy vir hulle kon verduidelik hoe om die motor aan die gang te kry.

Le Roux het daarna sowat 2 km kaalvoet na ʼn naburige huis geloop om hulp te ontbied. Henn is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem, waar hy tans aansterk.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Die Lexus is later verlate in Mamelodi-Oos gevind,” het Masondo gesê.

Die Kameeldrift-polisie ondersoek die saak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die moontlikheid word ondersoek of die twee skietvoorvalle verbind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Tyd dat ons ons self verdedig slapgat staat gaan dit nie doen….

Wicus Jansen Van Vuuren. ·

Ek stem saam. Tyd dat hulle hul eie medisyne kry. Wonder of die regering dan iets gaan begin doen.

Gerda ·

Ek stem 100 pesent saam …..Voordat daar niks van ons nasie oorbly nie….

Nita ·

Dieselfde klomp hienas. Die laaste keer was dan so maklik. Kameeldrift kleinhoewes is hul geliefkoosde jaggebied.

ZAR ·

Ons volk word uitgewis, onder ons neuse. Beplande volksmoord,
dis is wat dit is.
Kan ons nie n fonds stig, om boere te help om veiligheid op te skerp op hul
plase en kleinhoewes nie?

Vir R2500 kan ons n boer “sponsor” vir sy bevoegtheid kursus, lisensie aansoek , en n rewolwer.
Ons kan die fonds gebruik om CCTV kameras by plaas huise te instaleer, ens.
Ons kan die buurtwagte help met brandstof om ook die kleinhoewes te patroleer.

Johannes Meintjes ·

Kameeldrif (Oos) loop histories, of minstens sedert 2008, baie onder geweldsmisdaad deur. Mens sou hoop dat die GPF en AfriForum beveiligingsinisiatiewe nou al beter en meer effektiewe vrugte ten opsigte van Burgerlike Beskerming in SA sou dra?

Kotie ·

Dit gebeur oral, mense moet net meer versigtig wees. Ongelukkig woon ons in n land waar ons nie meer veilig is. En dit gebeur oral!! Om wasgoed so laat aftehaal en jou huis se deure is nie gesluit , is moeilikheid soek. Ons lewe in n tronk en kan niks daaraan doen.

Lizzy ·

Ek stem 100% saam. Wees eerder bang Jan as dooie Jan. Sluit jou deure agter jou en bly binne die huis as die son gesak het..sad but true..ons lewe in ‘n tronk!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.