Nóg ʼn PTA-metrobeampte vas oor omkoopgeld

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 37-jarige beampte van die Tshwane-metropolisie is in hegtenis geneem nadat hy glo ook omkoopgeld van ʼn motoris geëis het. Hy is die derde beampte van Pretoria wat vandeesweek weens omkopery in hegtenis geneem is.

Sr. supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die beampte is Woensdag in Hammanskraal in hegtenis geneem. Volgens hom het die beampte ʼn voertuig van die pad afgetrek, waarna die motoris erken het dat sy motor onpadwaardig is.

“Die beampte het R100 omkoopgeld van die motoris geëis,” het Mahamba gesê. “Die motoris het daarna ʼn formele klagte ingedien, en die beampte is in hegtenis geneem.”

Die beampte gaan na verwagting Donderdag in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig twee Tshwane-metropolisiebeamptes is in hegtenis geneem nadat hulle glo Maandag omkoopgeld van Yusuf Abramjee, hoof van die teenmisdaadveldtog Crime Line, geëis het.

Abramjee het die owerhede in kennis gestel dat die twee beamptes hom van die pad afgetrek en omkoopgeld geëis het. Hy het geweier om te betaal en die beamptes het hom laat gaan. Daar is Dinsdag ʼn lokval vir die beamptes gestel en hulle is onmiddellik in hegtenis geneem. Een van die beamptes het R1 200 kontant by hom gehad en die ander beampte is glo met R710 betrap. Hulle kon nie rekenskap gee van die geld nie. Lees meer hier.

Volgens Mahamba sal die beamptes kennisgewings van skorsing ontvang. Hulle het dan sewe dae om daarop te reageer voor ʼn besluit geneem sal word oor hulle skorsing.

Mahamba het ʼn beroep op die publiek gedoen om korrupte beamptes aan te meld. “Die departement moedig mense aan om beamptes wat omkoopgeld eis, aan te meld.”

Hy het gesê die metropolisie sal nie huiwer om korrupte beamptes af te dank nie. “Baie beamptes doen hul bes, maar ons weet daar is ʼn paar wat korrup is,” het hy bygevoeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.