Nog ‘n PTA-winkelsentrum beroof

North Park Mall (profielfoto)

North Park Mall (profielfoto)

Minstens een persoon is beseer nadat ‘n groep gewapende mans Dinsdagoggend die Vodacom-selfoonwinkel in Northpark Mall, in die noorde van Pretoria, beroof het.

Dana Wannenburg, ʼn DA-raadslid, is op die toneel en het aan Maroela Media gesê daar was glo sowat sewe swaar gewapende mans wat vanoggend die sentrum binnegestorm en na bewering die Vodacom-winkel beroof het.

Hy sê die mans het skote afgevuur terwyl hulle van die toneel gevlug het, en ‘n lid van die publiek is in die been geskiet. Volgens Wannenburg het die mans in ‘n wit Nissan-bakkie sonder nommerplate gevlug.

Volgens Wannenburg is dit moontlik dieselfde groep mans wat verlede week die Vodacom-winkel by Mayville Mall, in die noordweste van Pretoria, beroof het. Die twee winkelsentrums is sowat 5km van mekaar af geleë.

Ao. Matthews Nkoadi, woordvoerder van die polisie,het intussen bevestig dat die mans ‘n selfoonwinkel beroof het. Hy sê dit is nog nie duidelik hoeveel selfone gesteel is of wat die waarde daarvan is nie. Hy het ook bevestig dat een persoon tydens die rooftog beseer is.

In verlede week se voorval het ‘n groep mans selfone en tabletrekenaars gesteel en die eienaar van die Vodacom-winkel oor die kop geslaan met ‘n vuurwapen. ‘n Lid van die publiek is ook tydens die voorval in die been geskiet.

Tydens die laasgenoemde voorval het die rowers in ‘n wit enkelkajuit Toyota Hilux-bakkie met die registrasienommer BV28BJGP gevlug.

Lees ook:
Rowers slaan toe op PTA-winkelsentrum

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Belinda ·

Begin die ondersoek maar by die mense wat oral in diens geneem word……………….glo dit sal die ondersoek bespoedig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.