Nóg ʼn raadslid in KwaZulu-Natal vermoor

Argieffoto

ʼn Raadslid van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) is dood nadat hy Saterdagaand in ʼn oënskynlike lokval tussen Estcourt en Colenso in KwaZulu-Natal gelei is.

Mkhuleko Hlengwa, woordvoerder van die IVP, het Sondag die voorval op Twitter bevestig. Volgens Hlengwa is Zakhele Mazibuko in ʼn lokval gelei nadat hy ʼn partyvergadering verlaat het. Mazibuko was die IVP se publisiteitsekretaris in die Uthukela-distrik.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het ook Sondag die voorval bevestig.

Mazibuku se moord kom net dae voor die finale verslag van die Moerane- kommissie van ondersoek na politieke moorde in KwaZulu-Natal Donderdag aan die provinsiale wetgewer voorgelê sal word.

Mazibuko is die tweede IVP-raadslid wat vanjaar vermoor word en een van talle politici wat sedert 2011 in KwaZulu-Natal vermoor is. Die vlaag politieke moorde het premier Willies Mchunu genoop om in Oktober 2016 die Moerane-kommissie op die been te bring.

Samkelo Dlamini, IVP-raadslid en Zoeloeland-distriksvoorsitter, is in Mei vanjaar op ʼn hoofpad in Ulundi doodgeskiet. Op dieselfde aand is Musawenkosi Maqatha Mchunu, ʼn ANC-aktivis en voormalige raadslid, in ʼn onverwante voorval in die Pietermaritzburg-omgewing doodgeskiet.

Ses verdagtes is verlede week in hegtenis geneem in verband met die moord op Mchunu. Die verdagtes, onder wie ʼn ANC-raadslid, sal Donderdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn.

Hoewel die presiese dodetal moeilik is om te bevestig, gedeeltelik weens die verskillende definisies van ʼn politieke moord, het die ANC in Oktober verlede jaar aan die Moerane-kommissie gesê volgens hul berekeninge is 80 politici sedert 2011 in die provinsie vermoor.

Altesaam 30 mense van verskillende politieke partye is sedert begin 2016 dood, aldus die getuienis van Sihle Zikalala, die ANC se provinsiale voorsitter. Dié moorde sluit in 19 lede van die ANC, drie lede van die IVP, drie lede van die National Freedom Party, drie lede van die SAKP en een lid van die EFF, het Zikalala gesê.

Moorde wat gepleeg is ná Zikalala se getuienis bring die algehele dodetal nader aan 90 te staan. Mary de Haas, ʼn onafhanklike navorser wat die geweld in KwaZulu-Natal monitor, beweer meer as 100 mense is sedert 2011 om politieke redes vermoor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries du Toit ·

Raak net al hoe erger met die politieke moorde. En GEEN massa histerie. Maar arresteer nou n man in Machadodorp nadat hy mense skop en slaan ,en dan verset tedn die arrestasie,dan raak die plaadlike gemeenskap mal en die “Engelse ” media HISTERIES..Hoekom is die Afrikaanse Akademici so DAWEREND stil oor die WAARHEID wat in fie land gebeur.NS.Maroela M,hou asb aan met julle objektiewe beriggewing.

Adriaan ·

Ek merk geen DA en VFP lede vermoor nie. Is hulle dalk in koalisie met die misdade?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.