Nóg ʼn raadslid in KZN vermoor

Argieffoto

Njabulo Dlamini, ʼn raadslid van die Jozini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal, is op Nuwejaarsdag vermoor.

Nomusa Dube-Ncube, LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die provinsie, het dié nuus in ʼn verklaring bevestig.

Volgens Dube-Ncube is Dlamini in Richardsbaai vermoor. Nog geen motief vir die moord is bekend nie.

“Cogta moedig wetstoepassingsagentskappe aan om vinnig op te tree om die skuldiges wat hierdie gruwelike misdaad gepleeg het, vas te trek,” het sy gesê.

Dube-Ncube het nie bevestig hoe Dlamini vermoor is nie.

Groot dele van KwaZulu-Natal gaan gebuk onder ʼn vlaag van politiek gemotiveerde moorde wat daartoe gelei het dat ʼn kommissie van ondersoek onlangs aangestel is.

Verskeie van dié moorde het die provinsie geruk. Wandile Ngubile, adjunkstreeksvoorsitter van die ANC-jeugliga, is in Mei verlede jaar in Madadeni, Newcastle, doodgeskiet. Thembi Mbongo, ANC-kandidaat vir wyk 6 in Osizweni buite Newcastle, is twee maande later in Julie deur twee onbekende aanvallers by haar huis doodgeskiet. Sthembiso Mhlongo, die adjunkstreeksekretaris van die ANC Jeugliga, is einde November verlede jaar in die vroeë oggendure by sy huis in Pietermaritzburg geskiet. Hy is ure later in ʼn private hospitaal dood.

Pres. Jacob Zuma het die moorde vroeër “ʼn ʼn georkestreerde veldtog om die ANC te ontspoor” genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dinarie ·

Wat het geword van kommissie van ondersoek na polities gedrewe plaas eienaar moorde.

Ek sien n parallel hier

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.