Nog ʼn reddingsboei vir Eskom beplan

Argieffoto (Foto: Mujahid Safodien/AFP)

Berigte dat die Nasionale Tesourie aan ʼn plan werk om ʼn beduidende deel van Eskom se sowat R400 miljard-skuld te vereffen, is nie net kommerwekkend nie, maar skep ʼn baie duur presedent oor die bestuur van skuld in mislukte staatsbeheerde ondernemings.

Só sê dr. Dion George, die DA se skaduminister oor finansies.

“Die DA vind dit onaanvaarbaar dat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler nou, ná jare van ANC-geborgde korrupsie en wanbestuur van Eskom, gevra word om Eskom vir sy mislukkings deur ʼn skuldsubsidie te beloon,” sê George.

Enoch Godongwana, minister van finansies, sal na verwagting in Oktober ʼn voorstel vir Eskom se onvolhoubare skuld tydens sy mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring bekendmaak.

Eskom se huidige skuld beloop sowat R390 miljard. Eskom het verklaar dat die tempo waarteen skuld verminder word slegs volhoubaar sal wees indien die skuld tot R200 miljard verminder word, wat aandui dat ʼn reddingsboei van byna R200 miljard nodig is.

George sê die DA het gewaarsku dat ʼn reddingsboei van hierdie grootte deur die staat ʼn ernstige risiko vir Suid-Afrika se “reeds brose soewereine skuldprofiel” sal inhou.

Tot dusver is Eskom van R136 miljard voorsien om sy skuld te vereffen, met ʼn verdere R88 miljard gewaarborg tot die 2025-’26-boekjaar.

“Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het gewaarsku dat Eskom se bedryfs- en skuldprobleme makro-kritiese uitdagings vir die Suid-Afrikaanse ekonomie meegebring het en berig dat enige oplossing vir Eskom se skuld deur konkrete en geloofwaardige optrede voorafgegaan moet word. Daarbenewens het die IMF gewaarsku dat die verskuiwing van Eskom se skuld na die staat se balansstaat ʼn merkbare verswakking in die land se reeds gespanne finansies sal veroorsaak.”

Die staat se bruto skuld het in net die afgelope vyf jaar reeds van R2,5 biljoen (trillion) tot R4,3 biljoen (trillion) toegeneem.

“Gevolglik het skuld die hoogte ingeskiet en die snelgroeiendste uitgawelyn-item in die begroting geword, tot nadeel van diegene wat van die staat afhanklik is. Te midde van ʼn swak ekonomie moet die regering nou die druk op hardwerkende belastingbetalers en die mees kwesbares verlig.”

George sê dit is naïef om te dink dat nog ʼn reddingsboei ʼn gepaste oplossing is om die strukturele probleme wat Eskom teister, aan te pak.

“Indien die Tesourie tot die helfte van Eskom se skuld absorbeer, sal dit nie net ʼn gevaarlike presedent vir ander mislukte staatsbeheerde instellings skep nie, maar die risiko loop om Suid-Afrika in rommelstatus te dompel sodra ʼn aankondiging gemaak word.”

Die DA werk tans aan ʼn wetsontwerp oor fiskale verantwoordelikheid, wat sal verhoed dat die Tesourie Eskom-skuld probeer absorbeer.

Die wetsontwerp sal ʼn beperking instel op die hoeveelheid geld wat die regering sal kan leen. “Hierdie wetsontwerp sal nie roekelose finansiële gedrag deur die staat toelaat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Groen Ghoen ·

Ag so… en wie gaan betaal? Die ANC ministers en kaders wat van belastinggeld blinkvet word? Gaan “hulle” geld druk? OF gaan die armsalige brandmaer belastingbetalende melkkoeie vir hierdie briljante plan pa staan?

domheks ·

Hulle het genoeg geskep met die brandstof. Skryf maar alle skuld af!

H.A. ·

Die KADERS WIL GOU NOG SKEP WAT TE SKEPPE IS ! HEYENAS EN WOLWE OM DIE TROG WAT KWYLEND WAG VIR IETS OM TE VERSLIND.

krodedil ·

Eskom lewer al vir die laaste 30jaar gratis krag aan baie woonbuurtes soos Soweto. Dit alles sodat die ANC sy kiesers gelukkig hou. As Eskom hierdie gelde wat die munisipaliteite skuld en gratis krag weggee invorder sal hulle winsgewend wees. Geen maatskappy kan oorleef as as sy produk gratis weggegee word aan sekere kliente nie. Dis goed dat die ANC staat die skuld oorneem

Kokerboom ·

Privatisering BLY die oplossing. Wie gee die ANC regime die reg om bates wat belastingbetaleiendom is en wat hul deur getalle oorwig onregverdig ge erf het en opgevoeter het van ‘n winsgewende toekoms te weerhou?!!!

Jacobus ·

So al wat gebeur is dat die regering darem n deel van dit wat hulle uit Eskom geswendel het wil terug betaal. So die belasting betaler betaal nou dubbel om sonder elektrisiteit te sit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Verkoop die Grippen vegvliegtuie wat in die store lê. Dit kan seker ‘n paar miljard inbring.

Frank John ·

Skuld in die land word nie betaal nie, eerder meer skuld maak om ou skuld mee te betaal en so gaan ons net dieper in die skuld in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.