Nog ʼn renosterstroper swaar gevonnis

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

SANParke het nóg ʼn swaar vonnis verwelkom vir ʼn renosterstroper in die Skukuza-streekhof.

Mbongeni Ngobeni is skuldig bevind op ses aanklagte wat met renosterstropery verband hou. Die misdaad is op 21 Junie 2016 in die Pretoriuskopgedeelte van die Krugerwildtuin gepleeg.

“Wildbewaarders het hom in hegtenis geneem ná hulle skote gehoor het. Hulle het die spoor gevolg wat langs ʼn renosterkarkas gevind is,” sê JP Louw, woordvoerder van SANParke.

Die stroper is met behulp van die honde-eenheid opgespoor en hy is in hegtenis geneem. Hy het ʼn jaggeweer in sy besit gehad. Twee van sy medepligtiges het weggekom.

“Ngobeni is op 9 Maart 2019 vrygelaat op borgtog, maar het versuim om vir sy hofsaak op te daag. Die hof het ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en inligting is op 22 Desember 2023 ontvang oor waar hy hom bevind. Hy is weer in hegtenis geneem.”

Ngobeni is Donderdag skuldig bevind en gevonnis. Hy is 10 jaar tronkstraf opgelê vir die jag van ʼn renoster in ʼn nasionale park; vyf jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen; twee jaar vir betreding in ʼn nasionale park; vier jaar vir die besit van ʼn vuurwapen met die doel om ʼn misdaad te pleeg; vier jaar vir sameswering om ʼn misdaad te pleeg; twee jaar vir die besit van ongelisensieerde ammunisie en een jaar vir die besit van ʼn gevaarlike wapen.

Van die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en Ngobeni sal effektief 17 jaar tronkstraf uitdien.

‌Maroela Media het vroeër berig Terrence Patrick Makhubela is in dieselfde hof altesaam 20 jaar tronkstraf opgelê vir stroperyverwante oortredings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cobus ·

Dis maar ‘n uiters ligte vonnis. Kan nie sien dat enige iemand daaroor opgewonde is nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.