Nog ʼn rentekoersskok wag waarskynlik dié week

(Argieffoto: Unsplash)

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) waarsku dat die monetêre beleidskomitee die rentekoers Donderdag moontlik weer met 50 basispunte kan verhoog.

Die BER sê hoewel ʼn verergerende kragsituasie ongetwyfeld sleg is vir groei en dit ʼn argument teen nog ʼn rentekoersverhoging sou kon staaf, is die probleem ook inflasieverwant.

“Langer ure sonder krag gaan sakeondernemings se bedryfskoste opjaag omdat dieselaangedrewe kragopwekkers vir langer ure gebruik moet word. Groot kleinhandelaars het reeds alarm gemaak dat enige bykomende koste wat met selfs meer intense beurtkrag verband hou, aan die eindverbruiker deurgegee sal moet word.”

In daardie opsig is die kragkrisis ʼn sogenaamde stagflasie-skok; laer groei en hoër inflasie, sê die BER.

“Die inflasionêre uitwerking van beurtkrag word vererger omdat kommer oor die kragkrisis ʼn groot bydraende faktor in die tuimeling van die rand was. Indien dit volgehou word, gaan die swakker geldeenheid ʼn negatiewe uitwerking op pryse hê.”

Gegewe die Reserwebank se primêre mandaat – om pryse bestendig te hou – meen die BER die groter gevaar lê by faktore soos meer intense beurtkrag.

Voordat die rand geduik het, het die BER ʼn rentekoersverhoging van 25 basispunte verwag, wat waarskynlik die einde van die opwaartse rentekoerssiklus sou aandui.

“Selfs al verhoog die monetêre beleidskomitee Donderdag die repokoers met 50 basispunte, is dit nou baie minder duidelik of dit die einde van die verhogings gaan wees.”

Die rand het verlede week op die agtervoet gebly, met kwaai beurtkrag en blapse oor buitelandse beleid wat op tuisfront die rand onder druk hou. Die sterker Amerikaanse dollar bemoeilik sake verder.

Beurtkrag knou

Beurtkrag bly een van die grootste bronne van kommer en Eskom se bestuur het Donderdag gewaarsku dat Suid-Afrikaners dié winter waarskynlik die ergste beurtkrag nóg moet verwag.

“Met die vraag na krag wat gaan styg namate temperature daal en met meer as 3 000 MW se opwekkingskapasiteit wat weens langtermynonderbrekings in die wintermaande maande nie beskikbaar is nie, is die grondslag waarop Eskom werk verlengde tye van fase 3- tot fase 5-beurtkrag tot en met Augustus,” sê die BER.

Eskom beoog om instandhoudingswerk in die winter af te skaal en dit gaan beperk word tot 3 000 MW; ʼn daling van die naastenby 5 000 MW wat tans weens beplande instandhoudingswerk nie beskikbaar is nie.

Die kragvoorsiener het R30 miljard vir diesel in die 2023-’24-boekjaar verseker, wat beteken Eskom kan darem ook sy oopsiklus-gasturbines oor die volgende paar maande gebruik.

Eskom het egter gewaarsku dat indien die vraag na krag groter as verwag is, óf as onbeplande instandhoudingswerk of selfs arbeidsoptrede by sleutelopwekkingseenhede kop uitsteek, hy gedwing sal word om fase 8 in te stel.

Dit voeg ʼn verdere vier uur by die onderbrekings waarmee Suid-Afrikaners tot dusver vir lief moes neem en sal beteken in elke 32 uur-siklus is daar 16 uur van beurtkrag.

Eskom hou egter vol dat ʼn algehele netwerkineenstorting nie op hande is nie.

Die BER sê hoewel hy BBP-groei van 0,2% vir vanjaar “met potlood ingeskryf het”, is meer intense beurtkrag een van die risikofaktore wat dié groei kan beduiwel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Danie ·

Ek wil iets sê, ek ek gaan dit sê…. Met die ANC daar voor en die beurtkrag daar agter is hierdie land in sy peetjie!!!!

Zoey ·

Ek wil bitter graag nou baie lelike vloekwoorde gebruik!!!! Ons sukkel elke maand om deur te kom met wat ons het. Ons huispaaiement het begin op R8900 – dit trek nou al by R11800. My “verhoging” was so R360. So wat maak ‘n mens nou?

Wondermaarnet ·

Mag ek ook toi toi? Ek betaal my belasting en is wetsgehoorsaam, maar steeds suig ek aan die agterspeen. Die staat gee net nie om nie en sal eerder dié wat nie betaal nie nog meer instop.

Pieter ·

Sal nogal interessant wees. Ons sal seker almal toegesluit word as on dit sou doen. En as ons soos die ander begin brand en klippe gooi sal daar seker gese word ons wil n coup uitvoer

Henker ·

Dit is nie die sterker dollar nie, pond en Euro kos ook nou meer. Dit is die swakker rand.

Aai ·

My hart bloei vir die mense wat nog eindom skuld het ons het vir die laaste 15 jaar nie meer en ons voel dit self oor alles wat nou so duur is en word.

CHRISTINE ·

HOEKOM??
2022-2023 is my verband op met 30%, medies 10%, heffing 22%, petrol 25% en krag met wie weet hoeveel.
Salaris verhoging = 6%
Kan iemand net vir my verduidelik hoekom kan die son nie net oor die volk ook skyn nie??

Yolandie ·

Sjoe die lewe druk mens nou van alle kante. Mens kan net nie meer byhou nie. Besef die regering wat hulle aan die mense van ons land doen. Daar is klaar groot ongelykheid en die middelklas wat “okay” was vir ‘n tyd sukkel nou ook om die mas op te kom. Mens kan net nie meer so agteruit boer nie. Elke maand is ‘n struggle.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis die ANC se plan om die hool te transformeer soos in ‘n nuwe Kuba. Daar is nou geen omdraai nie.

TheSnake ·

Ek voel jammer vir almal wat nog verbande het, maar vir my is dit (seker kortsigtig) goeie nuus as die rente koers styg. Dan kry ek darem so bietjie meer rente op my klein belegging!

Phillip ·

Ek het my hius nou vir 2 jaar en betaal af oor 20jaar ek weet nie waar ons gaan staan oor 10 jaar met rep koers nie gelukkig is my hius 590 000 en betaal 6400 op die oomblik ek begin ook die tou word nou steiwer om my nek hoop Umato kry n goeie verhooging vir ons werkers

Charles ·

Ons is moeg gepaai deur die kenners wat wyd en suid voorspel het die einde is in sig vir die rentekoers verhogings, hulle praat snert. Hou vas, groot pyne lê voor.

Elma ·

Ek neem aan die voortslepende kragkrisis is die verbruiker se skuld aangesien ons daarvoor opdok ten opsigte van konstante verhogings in rentekoerse. Elke keer.

Leana ·

nee maggies dan wil ek ook nie meer belasting betaal nie want dis net geld in die water

S ·

En ons moet maar net betaal (mooi gestel). Belasting, rentekoers, eskom, petrol, kruideniersware – als buitensporig duur. Mens leef van maand tot maand en kom skaars uit. Waar gaan dit eindig?

Alida ·

So 25 jaar gelede, toe ons verplaas is en ‘n ander huis moes koop, het rentekoerse by die 22% gedraai. Toe het banke lenings vir 30 jaar toegestaan. Om ons paaiement te kon bekostig, het ons ook aanvanklik ‘n lening oor 30 jaar geneem, maar toe rentekoerse weer daal, het ons aangehou om ons hoë paaiement te betaal en toe ons huis in ‘n baie korter tyd (ek dink dit was 14 jaar) afbetaal. Dalk kan banke weer sulke toegewings aan verbandhouers begin maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.