Nóg ʼn rentekoersverhoging wink; wat nou met my huislening?

Nog ‘n rentekoersverhoging word later vandeesmaand verwag. (Foto: Steve Buissinne/pixabay)

Alle aanduidings is dat Suid-Afrikaners later vandeesmaand nog ʼn rentekoersverhoging kan verwag wanneer die Reserwebank vergader. Daar is ʼn verwagting is dat dit weer ʼn styging van 50 basispunte kan wees, dieselfde as wat die Reserwebank in Mei aangekondig het en wat die repokoers op 4,75% te staan gebring het.

Dit skep ʼn dilemma vir sommige huiseienaars, wat in hierdie stadium reeds sukkel om weens onder andere stygende brandstof- en voedselpryse kop bo water te hou. Dit laat ook die vraag ontstaan oor of huiseienaars dit moet oorweeg om ʼn vaste rentekoersverhoging op hul huislening aan te gaan om ʼn buffer teen verdere verhogings te skep.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê hierdie is ʼn besluit wat by elke individu berus.

In sy meer as 38 jaar ondervinding in die bedryf was die rentekoers gemiddeld tussen 12% en 16%. Die huidige prima rentekoers [8,25%] en selfs die 10%-vlak waarop dit voor die aanvang van die pandemie gestaan het, is volgens Seeff dus veel laer as die gemiddeld.

ʼn Swewende rentekoers is gewoonlik die standaard opsie. Dit word direk gekoppel aan die prima uitleenkoers, of die basishuisleningskoers, en die koers word aangepas soos die repokoers deur die Reserwebank aangepas word. Die aanpassings word in gedeeltes gedoen wat basispunte genoem word. Die laaste rentekoersverhoging was 50 basispunte, oftewel ʼn styging van ʼn halfpersent.

Wanneer daar ʼn aanpassing in die koers is, of dit nou op- of afwaarts is, word die rente op jou huislening (sowel as kredietkaart en ander lenings) dienooreenkomstig aangepas.

ʼn Vaste rentekoers is ʼn spesifieke rentekoers wat vir ʼn bepaalde tydperk geld. Dit beteken selfs al is daar ʼn aanpassing in die repokoers, bly jou terugbetalingskoers dieselfde. Dit beteken egter ook indien die rentekoers daal, jy geen voordeel trek uit die besparing wat die laer koers meebring nie.

Dit beteken ook jy sal nie meer moet opdok as wat jy nou doen wanneer die rentekoers klim nie.

Die nadeel aan ʼn vaste rentekoers is dat dit gewoonlik op ʼn paar persentasiepunte hoër as die heersende koers vasgestel word, dikwels 2% of meer. In Suid-Afrika kan die koers gewoonlik ook net vir tussen drie en vyf jaar vasgemaak word, terwyl dit in ander wêrelddele tussen 10 en 30 jaar vasgemaak kan word.

Dit maak beplanning dalk makliker, maar dit is net vir ʼn kort tydperk. Die rentekoers kan dalk ook nooit die vlak bereik waarop jou vaste rentekoers vasgemaak word nie en dit beteken jy trek geen voordeel indien die rentekoers daal nie.

Hoe nou gemaak?

Seeff sê ʼn aanvanklike belegging in ʼn deposito is ʼn uitstekende manier om te verseker jy het ʼn finansiële buffer. Dit sal die bedrag verminder wat jy moet leen en jou toelaat om jou kapitaalwaarde vinniger te vermeerder.

Probeer ook om enige spaargeld in jou huislening te deponeer as nog ʼn manier om die terugbetalingstydperk en die rente wat jy oor die langtermyn moet betaal, te verminder.

Hou ook by jou terugbetalings wanneer die rentekoers daal. Dit is ʼn manier om ekwiteit op te bou en hoe vinniger jy jou huis kan afbetaal, hoe hoër is die kapitaalwaarde en ekwiteit wat jy akkumuleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SjN ·

Prima uitleenkoers was 22,15% in Februarie 1985 en die mense het oorleef.

VaalDonkie ·

Huise was nie buitensporig duur nie. My maandelikse paaiement is R19200 tans en ek het nie ‘n groot huis nie en dis ook nie in ‘n fancy area nie. Ek gaan R25000/maand betaal wanneer die rentekoers weer by 12% draai. Ek weet nie hoe ek ‘n 22% rentekoers gaan hanteer nie.

Skadu ·

Great, maar wat was die prys van water, krag, voedsel, belasting, brandstof, ens toe?

otter ·

Jong , ek dink nie jy verstaan so lekker nie . is nie dieselfde as vandag nie . vat n stap terug en gaan doen jou huiswerk , miskien sal dit jou help.

Swerwer ·

Oorlewing is al wat die huidige landsburgers vandag kan doen, ongeag die finansiële druk waaronder almal gebuk gaan. Al die Ekonome en Finansiële Makelaars kan raad gee en voorstelle maak soos hul wil maar met die huidige Krag, Brandstof en onderdrukking van blankes wat plaasvind is oorlewing die enigste oplossing.

Pietertjie ·

Die verhoging is in werklikheid byna 16% : die “halwe persent” kan nogal misleidend wees.

Henry ·

Ons het n 2de huis gekoop gedurende die 80 jare en die rente koers was verhoog tot 26 persent. Dit was n groot aanpassing gewees. Na n paar maande het die koers gedaal en die bank het laat weet jou terugbetaling het verminder. Ek sè vir die bank ons is nou gewoond om daardie verhoogde bedrag te betaal. Die huis lening was toe afbetaal in 12 jaar in plaas van 20 jaar. Toe ons n huis gekoop het gedurende 1968 wou die bank nie n lening gee nie omdat met salaris R6.00 te min was. My salaris was R142 per maand en dit moes R148 gewees het. N brief van my firma het toe gehelp om die lening te kry. Om aan te pas is nie altyd maklik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.