Nóg ʼn rondloperleeu in Karoo gesoek

Argieffoto. Foto: SANParke

ʼn Soekgeselskap is tans op die spoor van ʼn rondloperleeu wat Vrydag uit die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes in die Wes-Kaap ontsnap het.

Volgens Reynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het ʼn Eskomwerker in die gebied die leeu by die Molteno-pas gewaar waarna ʼn soektog na dié dier begin is.

Spoorsnyers fynkam tans die gebied binne ʼn radius van 40 km in ʼn oostelike rigting vanaf die park. Ruie bosse in dié gebied bemoeilik egter die taak.

“Die span sal vandag tot donker soek waarna die soektog môre met sonsopkoms hervat sal word,” sê Thakuli.

Swaar reënval het veroorsaak dat grond onder die heining weggespoel het. Die leeu het glo onder deur die heining ontsnap, verduidelik Thakhuli.

Dit is in die stadium onduidelik of die leeu ʼn mannetjie of ʼn wyfie is. “Enige inligting sal in die stadium van hulp wees aangesien spoorsnyers nog nie die leeu gewaar het nie.”

Die taak word verder bemoeilik deur die feit dat die leeu nog glad nie prooi in die gebied doodgemaak het nie. Dit sou die span moontlik in die regte rigting kon stuur.

Dié leeu is nie die Karoo se eerste rondloperleeu nie. Die bekende rondloperleeu, Sylvester, het in 2016 uit dieselfde park ontsnap waarna hy sowat ʼn maand lank op vrye voet was.

Sylvester het ook weens swaar reënval onder deur ʼn heining ontsnap.

Sylvester, toe drie jaar oud, se soektog en versekeringseise van al die prooi wat hy tydens sy 25 dae op vrye voet verorber het, het SANParke R800 000 uit die sak gejaag. Hy het in die tyd sowat 26 skape, ʼn koei en ʼn koedoe doodgemaak.

Thakuli het ʼn beroep op die boeregemeenskap naby die oostelike asook westelike dele van die park gedoen om op die uitkyk te wees vir dié wilde dier.

Enige inligting kan by Nico van der Walt by 023 415 2828 of 082 801 2109 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jannie ·

Malema is ‘n dapper kêrel…..hy sal hom vir julle gaan soek!

Santie ·

As dit n wyfie leeu is gee haar naam asb Selvanie Dan is dit (Selvester en Selvanie)

Herman ·

Ek wens so ek kan ook help soek. Nee regtig. Dit moet n miljoen keer beter wees om so heeldag in die veld te stap as om in die verkeer werk toe te ry en heeldag met n baas en kliënte se kamma probleme te sukkel. Hulle hoef my nie eens te betaal nie. Gee my net n bietjie kos en koffie.

KAKtus ·

Nou leer die Parke nie. Dit is soos om die selfde ding te doen en n ander antwoord te verwag…… Nee wag laat ek eerder my Kaktus plantasie gaan besproei.

GRIET ·

? kaktusplantjie,hoe lekker laat jy, mý nou lag,met jou kaktus?dorinkies

Hendrik ·

Hier is nou ‘n geleentheid vir al die dapper geblikte leeu jagters. Deur die wilde leeu te laat jag kan die Parke R100000 wins maak eerder as om R100000 te betaal om hom terug te vang. Daardie R200000 wat so gespaar word kan dan gebruik word om die droë lope waar die leeus deurkom na reën, te beveilig.

PJC ·

Die heinings van die park lyk nie juis vir my of hulle ń leeu kan binne hou nie en dit lyk ook nie of die bestuur weet hoe om swak plekke uit te skakel nie. As ek aangrensend boer sal ek maar versigtig wees. ń Mens wil nie onverwags deur ń honger leeu gekonfronteer word nie.

Ellisras ·

Saterdag se marathon se roete is verander om weg te bly van die leeu af. Die voorste sou te vinnig wees, maar die agter osse sou dalk nie in die kraal gekom het nie.

jakes ·

Laat Robbie Wessels die leeuloop in die Karoo doen. ” KNYP 2 BALLE TUSSEN JOU BENE….”

jean ·

Hoekom nou wil doodskiet? Alreeds is die hele proses van die grootmaak en skiet van geblikte leeus afskuwelik.! Laat die park ASSEBLIEF dieselfde moeite doen as met Sylvester…..Maroela, ONS SIEN DAARNA UIT OM ELKE DAG ‘N STUKKIE GEIE NUUS TE LEES VAN DIE RONDLOPER!…..

Lisa ·

My standpunt bly dieselfde as met Sylvester- dis so vervelig daar hulle moet bietjie avontuur gaan soek. Sylvester is dood gelukkig in Addo, miskien is daar meer opwinding.

thelsa ·

Berig praat van ‘n ‘Eskomwerker’ Wat op dees aarde is dit ? Seker iemand wat by Eskom in diens is eerder. Ons weet mos hulle werk nie by Eskom nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.