Nóg ʼn SA lugredery in sakeredding

(Foto: pixabay)

Die plaaslike lugredery Comair het Dinsdag aangekondig dat hy in sakeredding gaan nadat die implementering van verskeie omkeerstrategieë in die wiele gery is deur die algehele afsondering wat verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika moet beperk.

“Ons het ses maande gelede reeds goeie vordering gemaak om die finansiële uitdagings reg te stel, maar die huidige krisis het beteken dat ons nie ons planne in werking kon stel soos ons beplan het nie,” sê Wrenelle Stander, Comair se uitvoerende hoof. Comair bedryf kulula.com en British Airways in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens en SA Express is reeds in Desember in sakeredding geplaas.

Comair het aan die einde van die mees onlangse boekjaar ʼn verlies van of R564 miljoen aangeteken.

Stander sê die maatskappy ondersteun die regering se besluit om die afsondering te implementeer ten volle, maar as gevolg hiervan kon die lugredery geen vlugte onderneem nie. “Noudat die afsonderingstydperk gelydelik uitgefaseer word sal ons seker eers weer in Oktober of November kan begin vlieg,” sê Stander. “Dié ongewone omstandighede het ons inkomste basis heeltemal uitgeput, terwyl ons steeds verplig is om sekere uitgawes te dek. Die enigste verantwoordelike keuse wat ons het is om aansoek te doen om sakeredding.”

Hy sê die maatskappy het reeds toestemming gekry om die verhandeling van sy aandele op die Johannesburgse aandelemark (JSE) onmiddellik op te skort.

“Comair is steeds solvent en ʼn lewer ʼn belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hierdie is ʼn noodsaaklike proses om ʼn gefokusde herstrukturering van die maatskappy so vinnig moontlik te verseker,” sê Stander.

ʼn Gestruktureerde afleggingsproses, wat reeds op 23 Maart begin is, sal voortgaan.

Passasiers wat reeds vlugte by Comair bespreek het, sal steeds hul besprekings kan verander binne 12 maande van hul oorspronklike vertrekdatum. Geen bykomende koste sal gehef word op veranderings wat voor 1 November gemaak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Megan Swart ·

Dagsê Stephan
Ons vra om verskoning vir die tikfout. Dit artikel is gewysig.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

JohanR ·

As ons weer binnelands mag vlieg gaan daar enigeiets wees om op te vlieg? SAA onder deur, Kalula onder deur, Safair en Mango as die vrot ANC nog soe aan hou sal oor ‘n maand ook miskien onder deur wees. Geen lugredery kan oorleef as daar nie boude op sitplekke is nie. Is dit nou die ANC se plan. Om alles in SA aftebreek en vernutig, en dan te herbou in hulle beeld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.