Nóg ʼn SA onnie verdwyn in Viëtnam

Mushfiq Daniels. (Foto: Facebook)

Die familie van Mushfiq Daniels (28) van Surrey Estate in Kaapstad is rasend van bekommernis nadat hy weke gelede vermis geraak het in Viëtnam waar hy as Engels-onderwyser klasgee.

Daniels is op 5 Julie vir die laaste keer gesien in die Phu Nuan-distrik in Ho Chi Minh City. ʼn Vriendin het Daniels glo langs die pad gesien en opgemerk dat hy ontsteld en gedisoriënteerd voorkom. Volgens inligting op die Facebook-blad wat opgestel is om in die soektog na Daniels te help, is die vermoede dat hy ʼn emosionele ineenstorting gehad het.

IOL berig Daniels se ma, Faheema, sy twee broers en nog ʼn familielid is tans in Viëtnam om na hom te soek. Sy familie het verskeie polisiestasies besoek en met plaaslike inwoners gepraat. Daniels se verdwyning is ook by die Suid-Afrikaanse ambassade in die land aangemeld.

Die familie het vroeër die week mense versoek om veral rondom moskees in Ho Chi Minh City op die uitkyk te wees vir Daniels. Hulle sê dit is moeilik om wenke van mense wat hom moontlik gesien het te verifieer, aangesien daar nie kringtelevisiekameras in die stad is nie. Die taalverskil bied ook vir die Daniels-familie ʼn reuse-uitdaging in hul soektog na Mushfiq.

Maroela Media het vroeër berig oor John Bothma, ook ʼn Suid-Afrikaanse onderwyser, wat al twee maande lank in Viëtnam vermis word. Bothma se ma, Coleen, het op 15 Mei vir die laaste keer met haar seun gepraat voordat sy familie sedert 18 Mei hom nie meer in die hande kon kry nie.

John Bothma (Foto: Facebook)

Daar was aanvanklik ʼn betaalde vliegkaartjie vir Bothma om op 1 Junie huis toe te kom. Dié kaartjie is toe na 18 Junie gewysig in die hoop dat hy dan sy opwagting in Suid-Afrika sou maak, maar toe hy nie opdaag nie, is dié kaartjie gekanselleer.

Santjie Dixon, Bothma se tannie, het vanoggend aan Maroela Media gesê daar is steeds geen nuwe inligting oor Bothma nie. “Dit is nou al lank wat hy vermis word. Interpol en die ambassade werk aan die saak,” sê sy.

“Die ergste is al die geraas van die publiek sonder enige konkrete inligting asook verkeerde inligting. Ek gaan self Maandag ʼn leidraad opvolg en as dit iets oplewer, sal ons kan besluit [wat verder].”

Om enige inligting aan Mushfiq Daniels se familie deur te gee rakende sy verdwyning, besoek die Facebook-blad hier.

Vir wenke oor John Bothma se verdwyning, kan die familie hier gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Denise ·

Dis absoluut verskriklik !!
Jou KIND is wég,soos in wég en niemand kan help nie!!!
Liewe Vader,Beskerm hulle asb
BAIE STERKTE aan die families

Johan ·

Baie sterkte aan die families. Dit moet ‘n traumatiese gebeure vir hulle wees. Die

Frm ·

Begin by altwee se vriendinne. Hulle klink vir my maar net te onskuldig.

Jozi ·

Nie seker waarop jy sinspeel nie.
Vir al wat ons weet was hulle heel moontlik die slagoffers van mensehandel.
Onskuldige kuiertjie iewers, iemand gooi ongemerk ‘n dwelm in ‘n drankie en hulle is absoluut weerloos en kan nie by die huis kom nie.
Ek hoop en bid vir albei se welsyn asook hul familie en vriende.
Hoop regtig hulle word opgespoor.

Toy ·

Die kinders moet weg bly van daai vreemde lande. Dit is vreesaanjaend om te dink jou kind moet daar wegraak.

Dink hardop ·

Ek hou tans skool in Ho Chi Minh City.

Ek voel stress veiliger hier as in enige plek in Suid-Afrika.

Nietemin hoop vir die beste m.b.t. die vermisdes

Glad nie waar nie ·

Dit is glad nie waar day daar nie kringtelevisie in HCMC of regoor Vietnam is nie. Inteendeel, daar is baie meer as in SA. Ongellukig is dit als in besit van private besighede, en die kans day hul dit gaan beskikbaar stel indien hul eie belange nie in gedrang is nie is baie skraal. Vietnam is vry van geweldsmisdaad teenoor buitelanders, maar dis n ongenaakbare wereld hier..so enige iets is moontlik.

Zelda ·

Ons jong kinders moet weg bly! ° hulle word as sex workers gebruik!!

zeldakr ·

God vergewe die wat tik op reaksie van hulle gevoelens. Ons plaas onself die altyd indie skoene van die familielede nie (hulle agns, onsekerheid, hoop, geloof, en klomp wat as vrae).
Die is 2 jong mense wat ‘n geleentheid gesien het om hulle medemens te help/bevorder sonder vrae, hulle wou net van hulle kant af gee. Hulle het reageer op ‘n vraag waar ander mense meer wou hê (beter lewe, kommunikasie, toekoms, leefstyl)
God omvou hulle asseblief U bewaring, in U genade. Ons sal dit waardeer as hulle kan huis to kom.
Miljoene hugs aan alby die jongmense se familie en fiende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.