Groot skade is aan nóg ʼn winkel van SANParke aangerig – dié keer in die Tsitsikamma-gedeelte van die Tuinroete- nasionale park (GRNP) in die Oos-Kaap.
Vuyisa Thabethe, algemene bestuurder van die GRNP, het gesê die brand is Dinsdag omstreeks 17:00 in die tydelike winkel by die Stormsrivier-ruskamp opgemerk. Parkwerkers en brand- en reddingspanne was volgens hom blitsig op die toneel, maar die winkel kon nie gered word nie.
“Ons is dankbaar dat daar geen lewensverlies was nie en geen van ons personeel of besoekers is beseer nie. Ons wil ook ons dank betuig aan die personeel en nooddiensspanne wat die brand in bedwang gebring en gekeer het dat dit na ander strukture versprei,” het Thabethe gesê.
Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium nog onbekend, maar word ondersoek.
Igna de Klerk wat tans saam met haar man, Manie, in die reservaat tuisgaan, sê hulle het vroegaand iets gesien wat soos stoom bo die winkel hang. Binne ʼn paar minute het dit in dik, swart rookwolke verander.
“Daar was dadelik mense wat die brand help blus het,” het sy gesê.
Die egpaar, van Bethlehem in die Vrystaat, was kort tevore by die winkeltjie waar ʼn werker nog besig was om voorraad uit te pak nadat die winkel weens die afsonderingsregulasies tydelik gesluit was.
“Dit is só hartseer. Ons het nou die dag ook gelees hoe dit by Letaba en Berg-en-Dal gebrand het. Dit is baie ontstellend,” het De Klerk gesê.
Net minder as twee weke gelede, op 9 September, is die winkel by die Letaba-ruskamp in die Krugerwildtuin in puin gelaat nadat ʼn brand daar uitgebreek het. Die brand het vermoedelik in ʼn stoorkamer uitgebreek en na die res van die winkel versprei. Die winkel is grootliks verwoes. Die kamp se televisiesaal is ook ernstig beskadig.
Minder as ʼn week later, op 14 September, was die Berg-en-Dal-restaurant in die Krugerwildtuin ook in vlamme gehul. Die brand het vermoedelik in die kombuis uitgebreek en na ʼn gedeelte van die eetsaal versprei.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
18 Kommentare
Klink my na georganiseerde misdaad
En Sanparke glo daar is niks agterdogtig nie? Is dit maar net bloot onkundigheid van Sanparke se kant af?
Dis darem maar ironies nè……..
BRANDSTIGTING –
Ek ruik ‘n rot. Wie ookal hiervoor verantwoordelik is moet gestop word. Dit is brand stigting en iewers sit ‘n sindikaat agter alles.