Nog ʼn seismiese opname aan Weskus beplan

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Swanson Chan/Unsplash)

Omgewing- en burgerregtegroepe maak gereed vir nog ʼn stryd teen ʼn groot olie- en gasreus nadat dit aan die lig gekom het dat nóg ʼn seismiese opname vandeesmaand aan die Weskus beplan word.

Die burgerregteorganisasie We are South Africans het verlede week die planne vir die nuutste eksplorasieprojek aan die lig gebring.

Gilbert Martin, stigter van die organisasie, sê die Australiese maatskappy Searcher Seismic sal na verwagting Saterdag die projek in die Wes-Kaap afskop.

We are South Africans het egter ʼn aanlyn petisie daarteen begin en is besig om ʼn interdik teen die betrokke partye te kry.

Volgens Martin is die nuutste projek ʼn verkenningspermit deur die Petroleumagentskap van Suid-Afrika ingevolge die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne toegeken. Die permit was reeds vanaf 6 Desember verlede jaar van krag.

“Die maatskappy het glo ook ʼn formele 30-dae‑ openbare hersiening- en kommentaarperiode hiervoor van stapel gestuur, maar berigte hieroor is skynbaar onopspoorbaar,” sê hy.

Die opname sal minstens 55 dae duur en ʼn ankerkabel, wat tot 12 km ver strek en ongeveer 8 m onder die see-oppervlakte sal wees, sleep.

Net soos in die geval van Shell se seismiese opname, sê Martin hierdie opname sal ʼn skadelike uitwerking op die visbedryf, seelewe en gemeenskappe aan die Weskus hê.

“Die geraas wat gegenereer sal word met die skokgolwe, kan 250 desibel bereik as dit wat deur die ontploffing gegenereer word, die seebodem binnedring,” sê Martin.

“In vergelyking hiermee wissel die hardste walvisgeluide tussen 140 en 190 desibel.”

Martin meen verskeie eweknie-geëvalueerde navorsingsartikels het bewys dat hierdie klanke die seelewe versteur en laat skrik, wat sal veroorsaak dat walvisse onder andere van hul kalwers geskei word.

“Boonop gaan hierdie opname ook ons visbedryf en gemeenskappe aan die Weskus negatief beïnvloed.”

Verskeie organisasies en gemeenskappe het reeds verlede jaar daarin geslaag om Shell se planne om dié soort opnames aan die Wildekus uit te voer, met behulp van ʼn interdik te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Marius ·

Die regering gee nie ‘n tiekie om vir die natuur of vir mense se welstand nie. Solank hul geld in palm is alles mos reg.

Perdeby ·

En julle gee nie ‘n tiekie om vir werksgeleenthede wat nie geskep kan word nie. Die vorige een wat weg gejag is, is nou in Mosambiek 25 biljoen rand oor 25 jaar vir Mosambiek en 500 werksgeleenthede vir hulle mense. Ons het mos nie ‘n te kort aan werk nie, maar die wat op die oliebore in Mosselbaar werk lewe lekker nie ‘ piep geluid nie.

Kokerboom ·

Wat de duiwel doen die Minister van Omgewingsake? Praat Ministers (Energie en Omgewingsake)nie met mekaar???

Samuel ·

Kokerboom, natuurlik praat hulle nie met mekaar nie. Hulle vul net hulle bankrekeninge.

Reinald ·

Indien u teen eksplorasie aan ons kus is, dan ook in ander dele van die wêreld, en behoort u ook olieinvoere te boikot! Die eerlikes behoort dan van hulle voertuie ontslae te raak en ook teen noodkrag opwekking te betoog (EVKOM gebruik hiervoor brandstof en gas!)

Perdeby ·

STem saam met jou, want daar gaan soveel geld en werksgeleenthede verlore vir die land, maar hulle dink nie sover nie.

Rudi ·

Hierdie sogenaamde omgewingsbekommerdes het niks beter om te doen nie en soek net publisiteit. Hoeveel van hulle is werklik wetenskaplikes?

Samuel ·

Hier, soos aan die Wildekus, gaan dit slegs oor geld in die ANC se bankrekening.

Tipper ·

Laat ek julle onkundiges net reg help, in die afgelope 70 jaar is seismiese toetse regoor die wêreld gedoen en nog nooit is enige seelewe, walvisse of ander see diere dood of beseer aangetref nie.
Met die eerste ontploffing beweeg die see diertjies weg en kom weer terug as dit stil is. In die see kom daar ook gereeld klank van hoër desibel voor, veroorsaak deur weerlig en aardbewingsvoor sonder om seelewe te beïnvloed.
Die mense moet meer hulle aandag vestig op groot vis maatskappye wat die vis uitput.

SlinkseKoljander ·

Tipper, mense moet die natuur uitlos. Ons voeter net alles op.

SlinkseKoljander ·

Los ons Weskus uit!
ANC gaan kry omkoop tenders erens anders.

Mariana ·

Hierdie maatskappye verniel als in hulle pad. Voel niks vir niemand. Die natuur is die laaste ding op hulle geldgierige brein. En natuurlik sal die minister van omgewingsake als goedkeur want dan is daar weer ‘n ou bonussie vir die beursie. Weereens ondeurdagte planne en geen denkvermoë.

Pieter J ·

Oor dekades heen is hierdie seismiese toetse gedoen sonder enige probleme en sonder dat die seelewe enigsins beïnvloed is. Wat het nou so skielik verander of is dit sekere mense se versteekte agendas?

pestilensie ·

Ai mense , besef julle nie in watter ellendige toestand ons ekomonie is nie . Armoede dwing ons land op sy knieë . Olie Sal soos manna uit die hemel wees . Elkeen wat kinders het is deel van die probleem en die met meer as twee kinders DIE probleem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.