Nog ’n skietery in Mitchells Plain eis 4

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

(Argieffoto: Kent Williamson)

Vier mans is Saterdagmiddag dood en nóg een gewond tydens ’n skietery in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, sê onbekende verdagtes het omstreeks 12:15 op die groep mans in Maureenstraat in Lost City losgebrand voordat die verdagtes te voet op die vlug geslaan het.

Vier van die slagoffers, onderskeidelik 30, 36, 37 en 64 jaar oud, is van naby geskiet en dood verklaar. ’n 37-jarige man is gedurende die voorval gewond.

Niemand is nog in verband met die skietery in hegtenis geneem nie en die polisie doen ’n beroep op mense om enige inligting rakende die voorval by Stop Misdaad, 08600 10111, aan te meld.

Die skietvoorval volg kort nadat ’n tienerseun en ’n jong man óók in Mitchells Plain doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig die insittendes van ’n wit motor het Donderdagaand op ’n groep tieners op die hoek van Cadillac- en Rileystraat in Beacon Valley losgebrand. ’n 13-jarige seun is gedurende die voorval doodgeskiet. Drie ander – onderskeidelik 14, 16 en 18 jaar oud – is gewond.

Die polisie is dieselfde aand na nóg ’n toneel in die omgewing, dié keer op die hoek van Cadillac- en Austinstraat, ontbied waar die liggaam van ’n 18-jarige man met ’n skietwond aan sy nek aangetref is. Die man is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LD ·

Dis verskriklik! Dis al so algemeen daar dat dit as normaal beskou word! Hartseer!

MakersMark ·

En die SAP en Metro polisie arresteer mense wat by sekuriteit “estates” 7 min na die afspertyd aankom…….te bang om te polisieer op die plein en die flats waar geweld teen vrouens en kinder buite beheer is, bendes en dwelmhandel is buite beheer, nie te praat van drankmisbruik ens nie. Dan is daar nog mense wat polisie optrede goedpraat.

Charl ·

MakersMark ek stem 100% saam, die polisie wéét wie al die bendes op die Kaapse Vlakte is en waar elkeen se “turf” is, hulle moet doodeenvoudig maak soos die Weermag in die 80’s, sluit die gebied/area af, níémand in óf uit nie en doen huisopruiming van buite af binne toe en laat géén steen onaangeraak nie . Ek weet dis ‘n helse groot operasie maar dit kán gedoen word in ag geneem die verlies aan onskuldige lewens en die ewige vrees waarmee die inwoners daagliks moet saamleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.