Skaars ʼn dag nadat ʼn 10-jarige skoolseun in Pinetown op pad skool toe doodgery is, is ʼn 10-jarige skoolmeisie in Johannesburg ook raakgery.
Die meisie, wat Woensdagoggend raakgery is, is in ʼn kritieke toestand. “ʼn Voertuig het haar getref by die kruising van Marina- en Suid-Afrikaweg in Cosmo City, noord van Johannesburg,” het Russel Meiring, ʼn woordvoerder van ER24, gesê.
“Paramedici het die meisie in die middel van die pad aangetref. Sy het ernstige beserings aan haar kop en maag opgedoen. Sy is op die toneel gestabiliseer en met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.”
Volgens ooggetuies het die meisie glo oor die pad gehardloop om by die skool te kom sonder dat sy die voertuig sien aankom het.
Maroela Media het Dinsdag berig ʼn 10-jarige skoolseun is deur ʼn minibustaxi doodgery toe hy die M13-King Cetshway-snelweg in Pinetown, KwaZulu-Natal, wou oorsteek. Lees meer hier.