Nog ʼn slag vir Henri van Breda

Henri van Breda. Foto: AP Photo/Nasief Manie

Die veroordeelde moordenaar Henri Van Breda (23) se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis is Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad geweier.

Regter Siraj Desai, wat die verhoor behartig het, het beslis die verdediging kon geen oortuigende redes aanvoer hoekom Van Breda toegelaat moet word om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer nie. Die aansoek is daarna van die hand gewys.

Van Breda is in Mei skuldig bevind aan die moord op sy ouers en broer in Januarie 2015. Die 23-jarige is ook skuldig bevind aan ʼn aanklag van poging tot moord op sy suster, Marli, toe 16 jaar oud, wat sedertdien aan geheueverlies ly en dus nie tydens Van Breda se verhoor kon getuig nie.

Van Breda is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg nadat hy met die misdaadtoneel gepeuter en vir die polisie vals inligting gegee het.

Hy is in Junie drie lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op sy ouers en broer.

Die aanval in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 in die gesin se huis op die luukse De Zalze-veiligheidslandgoed buite Stellenbosch het destyds skokgolwe deur die land gestuur. Van Breda beweer een, of moontlik twee indringers het sy gesin vermoor.

Piet Botha, Van Breda se regsverteenwoordiger, het verlede week aangevoer Van Breda moet toegelaat word om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer aangesien die saak teen hom “op omstandigheidsgetuienis gegrond was”.

Van Breda se regspan het ná die uitspraak gesê hulle sal nou die appèlhof direk nader. Die verdediging het 15 dae kans om hul aansoek by die hof in te dien.

Hou Maroela Media dop vir meer.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

SL ·

Well done! Hy moet boet vir sy gruweldade. Jammer dit word gelyktydig uitgevoer

Se maar net ·

Hy het dit uitgedeel so hy moet maar vat wat sy kant toe kom!

christa ·

baie goeie besluit. Hy verdien elke vonnis en elke straf wat hom op gele kan word.

CAROL ·

Nee wat boetie dis tyd dat jy n les geleer word. Sit jou vonnis wat jy verdien!!!! Tnx Judge Desai

Biertjies ·

@Nico Uys, die saak het niks te doen met dit nie. Dan kan mens met letterlik alles so redeneer, wat glad nie sin maak nie.

Peet ·

Well @Nico, as jy so wil redeneer, waar is al die skuldiges wat in apartheid onreg aangedoen het?

Netso ·

Ek stem, hul gaan pluk soveel hul kan, ek hoop regtig dit word van die hand gewys. Hierdie kind het ‘n verskriklike ding in die hitte van die oomblik gedoen en tydens sy skuldigbevinding en vonnis oplegging kon ek sien, hy weet en ek is doodseker hy wens hy kon dit terugdraai om anders te kon optree. Vir hom is dit belangrik om sy vonnis te sit en deur hierdie ding te werk, as hy eendag uitkom moet hy weer die goeie seun wees nie die monster van daardie nag in Januarie nie. Familie asb stop die pogings, dit gaan net geld kos, verder moet hierdie kind sy Skepper leer ken en sy sake regmaak.

Ekke ·

Jy het nie jou ouers gegun om saam oud te word en ook nie jou broer nie. Jou suster se jong lewe het jy verwoes. Die straf kom jou toe!!! Danielle maak oop jou oe en gaan aan met jou lewe aub.

SjN ·

Wat se die maatskaplike werker nou wat in sy onskuld geglo het?

Wonder ·

Ek wonder, wie betaal sy Regskostes? Hy gaan mos nie erf nie.

Engela de Klerk ·

Wat ‘n vermetelheid! Dankbaar vir hierdie besluit en vertrou dis nou die einde van hierdie knaap se astrantheid. Gooi nou die sleutel weg.

DieWaarheid ·

Hulle geld is nou niks werd nie. Tyd is baie meer werd as geld, mens wens net almal kan dit raaksien.

Liberaal ·

Ons linkse liberaliste se harte bloei vir moordenaars, ons wil hulle vrylaat want ons liberaliste dink nie aan hulle slagoffers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.