Nóg ʼn slagoffer van kamma-polisie

Derrick de Caires se nota.

Derrick de Caires se nota.

Nóg ʼn slagoffer van twee mans wat in ʼn wit Citi Golf in Pretoria rondry, hulself as polisiebeamptes voordoen en dan voetgangers van kontant beroof, het hul storie met Maroela Media gedeel.

Maroela Media het vroeër berig die twee ‘beamptes’ het Jacques Denysschen (20) Dinsdag in Gezina van R6 450 beroof nadat hul hom as ʼn ‘moordverdagte’ beskuldig het.

Intussen het Joey de Caires Donderdag aan Maroela Media gesê haar man, Derrick (47), is ʼn maand gelede deur dieselfde ervaring. “Ons woon in Hermanstad. My man het van ons huis af na ʼn nabygeleë onderdelewinkel gestap toe ʼn wit Citi Golf langs hom stilgehou het,” het De Caires gesê. “Die mans het hulle ook as polisiebeamptes voorgedoen en gesê ʼn bank is sopas beroof en dat my man ʼn verdagte is, want iemand het gesien ʼn man met ʼn swart baadjie was by die rooftog betrokke.”

"No blood" staan op die koevert wat aan Jacques Denysschen oorhandig is.

“No blood” staan op die koevert wat aan Jacques Denysschen oorhandig is.

Haar man, Derrick, het ʼn swart baadjie aangehad. Hulle het daarop aangedring om die kontant wat hy by hom gehad het, te deursoek om te kyk of daar bloed op is. Hulle het daarna op ʼn stuk papier “No blood” geskryf en dit onderteken. Hulle het die kontant en papier aan hom terugbesorg. Die handtekeninge op die koevert en stuk papier stem ooreen.

Die mans het Derrick in hul voertuig in gedwing en gesê hy moet hulle wys waar hy bly. Toe hulle by sy huis aankom, wou hulle weer sy kontant deursoek, maar hy het uit die voertuig gespring en gesê hy sal slegs die kontant voor getuies aan hulle oorhandig. “Gelukkig was daar baie mense by ons huis. Die mans het geskrik en weggejaag,” het De Caires gesê. Die egpaar kon daarin slaag om die voertuig se registrasienommer, CSV800GP, neer te skryf en het die saak by 10111 aangemeld.

In Denysschen se geval het die twee verdagtes hom die oggend voorgekeer toe hy ʼn rekening by ʼn bank wou gaan betaal. Die wit Golf het langs hom stilgehou en die ‘speurders’, in siviele klere, hom begin ondervra het. Hulle het aan hom gesê hy is ʼn verdagte van ʼn moord en rooftog daar naby waartydens twee persone doodgeskiet en drie gewond is. Hulle het ook gesê R36 000 is tydens die voorval geroof en aangevoer hy is ʼn verdagte, want ʼn ‘ooggetuie’ het gesien hoe iemand met ʼn rooi baadjie van die toneel af weghardloop. Denysschen het in daardie stadium ʼn rooi baadjie aangehad. Die mans het aangedring om die kontant wat hy by hom gehad het, te deursoek vir bloed. Hulle het die kontant egter met koerantpapierrepies omgeruil terwyl hy besig was om ʼn ‘verklaring’ in te vul. ʼn Wit koevert met die woorde “No blood” en ʼn handtekening is daarna aan hom terugbesorg. Klik hier om meer te lees.

ʼn Polisiebron het Donderdag die nommerplaat tot by ʼn adres in Antiquastraat in Cosmos City, Roodepoort, gevolg. Die polisie sal ondersoek of die nommerplaat moontlik gekloon is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

"Huh!" ·

Wat!? Hy het die regestrasienommer alot ‘n maand terug aan die polisie gegee en hulle is nog nie gevang nie!?

Adri ·

Jy sien wat ek bedoel, hul wou ni eers n saak maak ni, pateties ne? Dan moet jy lees op Boere krises aksie hoe se hul vir Jacques sleg, tipies nuwe SA. Huls kop in een mus man!

Eben ·

Mense wonder is die nie regtig die polisie self is … sal nie verbaas wees! Dis hoekom daar niks gedoen is aan die vorige sake!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.