Nóg ʼn span brandbestryders van die Stad Kaapstad is vandeesweek aangeval toe hulle na ʼn toneel uitgeroep is.
Dít nadat die Stad se brandbestryders verlede maand binne 48 uur nie minder nie as drie keer onder aanvallers tydens betogings in die omgewing van Khayelitsha deurgeloop het.
JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Vrydag in ʼn verklaring gesê die jongste voorval het Donderdagaand in Delft plaasgevind.
Volgens Smith is ʼn brandweerspan van Belhar net voor 20:00 na die toneel ontbied waar ʼn vragmotor in die suide van Delft aan die brand gesteek is. Beurtkrag was boonop in die omgewing ingestel ten tyde van die voorval.
Smith het gesê die span brandbestryders is deur lede van die polisie vergesel na Hindleweg waar hulle met hul aankoms onder aanvallers deurgeloop het.
“Die brandbestryders en lede van die polisie het onder skoot gekom net toe hulle die toneel nader. ʼn Baksteen is na die voorruit van die brandweerenjin geslinger.”
Volgens Smith was die span brandbestryders só getraumatiseer ná die voorval dat hulle later huis toe gestuur is. Dít het daartoe gelei dat die brandweerstasie in Belhar vir die res van die nag onbeman was.
“Hierdie misdadige gedrag word ʼn gereelde verskynsel en hou potensieel verwoestende gevolge in vir wetsgehoorsame burgers wat nooddienste benodig,” het Smith gesê.
Volgens Smith vertraag aanvalle van dié aard nie net brandbestryders se reaksietyd op noodgevalle aangesien hulle moet wag vir polisiebegeleiding nie, maar dit kan selfs daartoe lei dat die Stad Kaapstad sy dienste heeltemal onttrek aan plekke waar daar onrus is.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Los hulle dat hulle hul eie brande bestry!!!!
Ag nee, los nou die verdomde inperkings, en bepaal julle by wet en orde, gatvol verby……
Dis te danke aan ANC beleid vroeër jare om land onregeerbaar te maak. Enigste oplossing is ‘n harde ongenaakbare benadering teenoor straatboewe. Bring dissipliene terug.
Ek wonder watter politieke party wil Kaapstad destabiliseer. Dis mos ñ ou agenda van die comrades.
En daar is kamstig minder misdaad agv die inperking??