Nóg ʼn staking dreig by Sassa

Argieffoto

Lede van die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) is van plan om van volgende maand af by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) te begin staak.

Die Cosatu-geaffilieerde vakbond het gesê hy het die regering nou genoeg tyd gegee om hul eise te oorweeg en werkers se geduld is op.

“Nadat ons die kennisgewing om te staak op 16 Augustus vanjaar uitgereik het, het Sassa gekies om ʼn aansoek in te dien om toelaagadministrasie as ʼn noodsaaklike diens te laat klassifiseer in ʼn poging om ons staking te systap. In hierdie opsig wil ons die publiek en spesifiek die toelaagbegunstigdes in kennis stel dat ons eise steeds staan,” het Nehawu Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Nehawu se eise sluit in die opskorting van biometriese inskrywings vir toelaagbegunstigdes en dat werkevaluasies gedoen moet word.

Dié voorgenome staking volg kort op die hakke van die staking deur die Public Service Association (PSA) by Sassa. Die PSA het die departement van staatsdiens en administrasie hof toe gesleep om die departement te dwing om oor salarisse te onderhandel en nie net te voldoen aan die ooreenkomste wat by die staatsamptenare se bedingingsraad onderteken is nie.

Die staking het die maatskaplike agentskap hard getref in ʼn tyd waar toelaaguitbetalings van Cash Paymaster Services (CPS) na die Poskantoor, banke en ander kontanthandelaars moes oorskuif.

Nehawu het gesê hy sal vanaf 24 September begin om sy lede oor die hele land te mobiliseer sodat die staking op 10 Oktober kan begin.

“Verder sal die vakbond die 13de Cosatu- nasionale kongres [wat vanaf 17 September plaasvind] gebruik om ons lede se lot te deel met die oog daarop om ʼn spesiale resolusie by hierdie kongres te vestig. Ons sal ook met die leierskap van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) vergader met die oog daarop dat lede by ons staking aansluit en dit ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.