Nog ʼn student op UK-kampus aangeval

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Tweedejaarstudent op die Universiteit Kaapstad (UK) se mediese kampus het Maandag die mees onlangse slagoffer van ʼn reeks aanvalle geword wat die afgelope paar weke die studentegemeenskap teister.

Sebastian Scheidereiter (22) moes Maandagmiddag teen die loop van ʼn vuurwapen vaskyk toe hy op die kampus deur twee mans beroof is.

Scheidereiter het gesê hy het na sy motor in Falmouthweg naby die Groote Schuur-hospitaal gestap, toe twee mans met pette en sonbrille hom genader het. Hy het probeer wegstap van hulle af, maar hulle het op hom afgehardloop en ʼn rewolwer op hom gerig.

Die mans het hom beveel om sy selfoon en beursie te oorhandig en het ook sy rugsak gevat waarin sy rekenaartablet, studentekaart en studienotas was. Hulle het ook ʼn goue kettinkie van Scheidereiter se nek afgeruk en gevlug.

Scheidereiter vertel dat hy ná ʼn ruk teruggestap het na die kampusgebou toe ʼn jong vrou huilend nadergehardloop kom. “Sy was so pas gekaap en die twee voorvalle het minute uit mekaar gebeur,” het hy gesê. “In haar geval was daar vier mense. Sy het gery toe die motor voor haar stilhou en twee mans uitspring. Hulle het ʼn vuurwapen op haar gerig en haar beveel om uit die motor te klim.”

Die jong vrou is ook ʼn student aan die universiteit.

Kylie Hatton, woordvoerder van die UK, het gesê die universiteit is bekommerd oor die onlangse voorvalle en sal hul samewerking aan die polisie gee om die skuldiges vas te trek.

Die polisie is reeds op die spoor van ʼn reeksverkragter wat minstens drie vroue by die Rhodes-gedenkteken naby die UK in die afgelope paar weke oorval het. Die universiteit het studente en personeel gewaarsku om die gebied rondom die gedenkteken te vermy nadat ʼn vrouestudent by die voetgangerbrug na die gedenkteken voorgekeer en ure lank verkrag is.

Scheidereiter het gesê hy sal vir berading gaan ná die voorval. “Ek is al voorheen met ʼn mes aangehou, maar dit is nie ʼn lekker gevoel om ʼn vuurwapen teen jou gesig te hê nie. Ek sal nie meer in daardie straat stap nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Arno ·

Ek het altyd gedink Kaapstad is “beter” as dit by roof en kaping kom, maar dit steek al hoe meer hier ook kop uit. Die hele land is besmet met misdaad.

CHRISTA ·

Wys jou Arno, tot die misdadigers soek beter weivelde as Gauteng!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.