Nóg ’n student sterf ná Vrystaat-skietery  

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die skietery die afgelope week in Phuthaditjhaba in die Vrystaat het die lewe van ’n derde student geëis.

Vukani Zikalala was ’n student by die Itemoheleng-kampus van die Maluti TVET Kollege.

Zikalala se ouderdom is nie in dié stadium bekend nie.

Twee studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en ʼn jong man, nie ʼn student nie, het ook in die skietvoorval, wat Woensdag omstreeks 00:40 plaasgevind het, gesterf.

Dié man en een van die Kovsie-studente is op die toneel dood. Die tweede Kovsie-student het kort daarna in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Vier mense is in dié skietery dood.

Die name van die ander oorledenes is nog nie bekendgemaak nie.

Luidens ’n verklaring deur dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het Zikalala in dieselfde private woonplek as die twee UV-studente gebly.

Die groep jong mans was ten tyde van die voorval in hul huurkamers by Botjhabela Village naby Phuthaditjhaba toe hulle deur onbekende mans aangeval en geskiet is. Die polisie het vroeër gesê die aanvallers het maskers gedra en kontant, skootrekenaars en selfone geëis.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, hoewel die polisie sake van moord ondersoek.

Nzimande sê hoewel die regering alles in sy vermoë doen om ʼn veilige leeromgewing vir studente te skep, daar meer samewerking tussen hoëronderwysinstellings en gemeenskappe moet wees om die veiligheidheid van studente te verseker.

“Veiligheid is ʼn gesamentlike verantwoordelikheid en indien dit geïgnoreer word, kan dit noodlottige gevolge inhou. Dit is die rede waarom ons riglyne vir die departement en opleidingskema vir studente in ons openbare instellings ontwikkel het.

“Universiteite word deur middel van hierdie riglyne versoek om sover moontlik private verskaffers van studenteverblyf te akkrediteer en die gehalte van verblyfvoorsiening aan studente wat op kampus woon, te monitor.”

Volgens Nzimande is die departement in ʼn gevorderde stadium met betrekking tot die ontwikkeling van ʼn omvattende studenteverblyfstrategie wat openbare sowel as private verblyfsaspekte dek.

Nzimande sê voorts daar word van instellings verwag om, onderhewig aan ’n stelsel van formele registrasie en verifiëring, stelsels te ontwikkel wat implementeerbaar is binne die raamwerk van die departement se voorgeskrewe riglyne. Die stelsel moet ook erkenning gee aan die behoefte aan verbeterde kontrole van private huurooreenkomste wat in ooreenstemming met universiteite se beleid is.

In ʼn poging om die uitdagings met betrekkinge tot studenteveiligheid verder te takel, het Nzimande ʼn beroep op hoëronderwysinstellings gedoen om – te midde verhoogde geslagsgebaseerde geweld teenoor onder andere vrouestudente – veiligheidsforums in te stel wat die veiligheid van studente en die gemeenskap bevorder.

Volgens Nzimande moet hierdie forums onder meer uit verteenwoordigers van gemeenskapsveiligheidforums, burgerlike instellings, geloofgroepe, tradisionele owerhede en sakeondernemings bestaan.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisie by 082 479 3313 of 082 332 3418 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Redeneer soos ‘n passer . Alweer .

Nie Verbaas

Die vraag wat bo al jou sinnelose gebabbel uitstyg Nzimande is die volgende, hoekom gebeur die tipe van ding nou in ons samelewing waar dit voor 1994 nie n probleem was nie en wie het die tipe van denkwyse dat die mate van geweld aanvaarbaar is gekweek? Dit help nie om van die waarheid weg te skram nie en geen forum sal dit oplos nie. Jy weet goed wie verantwoordelik is en hoekom.

Flip

Hoekom is blm so stil oor hierdie saak?

Werner

Seker maar n roof wat skeef geloop het

annie

Blade noem 5 groepe wat moet saamwerk om die probleem te bekamp. Snaaks dat wanneer wit mense in hul wonings aangerand word, die regering se denke en hande stil staan. En dit is nie net tuis waar misdaad gedy nie, in klasse gaan die woes/woester en die woesste tragedie is die onnies wie se gedagtes eerder in die slaapkamer boer as om op te let in die klas. Cyril, die dromer, hoop die werklikheid is soos ‘n rekenaarprogram met ‘n wisser. Die glasie drank kan uitgevee word en plek maak vir ‘n soet roos; soos Jean sê: Ons is nie… Lees meer »