Nog ’n Swartwater-boer op plaas aangeval

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Boer van Swartwater in Limpopo is Woensdag helder oordag op sy plaas aangeval en van onder meer duisende rande se lone beroof.

Martie Joubert, voorsitter van die plaaslike Voortrekker-boerevereniging, het Donderdag aan Maroela Media gesê die boer, Attie Roux (60), is omstreeks 14:00 deur drie gewapende mans op sy plaas, Daantjieslaagte, oorval.

“Sy vrou, Petro, was tydens die aanval in Polokwane om inkopies te doen. Sy en haar seun het die aand toe hulle terugkeer op hom afgekom. Hy is vasgebind en aangerand,” het Joubert gesê.

Na wat verneem word, het die aanvallers met onder meer ʼn jaggeweer en duisende rande se lone wat hy op Alldays gaan trek het, in Roux se motor gevlug. Sy motor is later verlate langs ʼn pad teruggekry.

Daar word vermoed dat die verdagtes ʼn medepligtige gehad het wat hulle rondkarwei het.

Roux sterk by sy huis aan.

Die egpaar was nog nie gereed om met die media te praat nie.

Dít is die jongste aanval in die gebied nadat die wildboer dr. Louis-John Botha (64) op 28 Februarie op sy plaas, Gwelo, vermoor is.

Maroela Media het vroeër berig Botha se liggaam is op 2 Maart in ʼn waterkuil naby sy plaashuis gevind. Hy was die naweek alleen op sy plaas. Sy familie en vriende by wie hy die Saterdag sou gaan kuier, het bekommerd geraak nadat hulle hom nie in die hande kon kry nie.

Hulle het die Sondag Botha se bure gebel en gevra om te gaan ondersoek instel toe hulle hom steeds nie in die hande kon kry nie. Toe die buurman by Botha se huis opgedaag het, het die huis oopgestaan. Daar was geen teken van Botha nie. Die kluis het oopgestaan en daar was bloed in die huis.

ʼn Soektog na Botha is van stapel gestuur en sy liggaam is vroeg die Maandagoggend in ʼn waterkuil met krokodille, sowat 200 m ver van sy huis af, opgespoor.

Vier verdagtes, almal van Zimbabwe, is kort ná sy moord in hegtenis geneem. Hul verhoor duur voort.

Joubert het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om te alle tye paraat en sigbaar te wees en om by die plaaslike boerebeveiligingstrukture betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.