Nog ’n terugslag vir baba Mienke

Baba Mienke (Foto: Facebook)

Baba Mienke Mulder is Maandag vir die soveelste keer in ’n Johannesburgse hospitaal opgeneem nadat sy vermoedelik ’n virus opgedoen het.

Verna Mulder, Mienke se ma, het Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê klein Mienke het erge koors, verstik en kry stuipe. “Mienke voel glad nie lekker nie. Sy het seer en is ongemaklik en huilerig,” vertel Mulder.

Sy vertel verder dat die 19 maande oue dogtertjie ná ’n dag in die hospitaal nog nie juis beter lyk nie aangesien haar koors steeds nie gebreek is nie.

Volgens Mulder het Mienke oor die naweek al hoe slegter begin voel en kon skaars haar ogies oophou, waarna sy in die hospitaal opgeneem is. Dokters is steeds besig met toetse om die presiese oorsaak van dié terugslag vas te stel.

Mulder sê dit is deel van die gesin se normale roetine om Mienke gereeld vir ondersoeke by ’n neuroloog en kardioloog te neem wat haar toestand fyn dophou. Mienke word ook byna elke drie maande in die hospitaal opgeneem en ontvang weekliks terapie. Versorgers help deur die week met haar terapie by die huis en oor naweke sit haar ouers hand by.

Mulder vertel dat Mienke oor die algemeen vir mense beter lyk, hoewel sy op 19 maande steeds nie kan rol, sit of kruip nie. “Mienke kan ook nie praat of babageluide maak nie. Sy kan nie eet of sluk nie.”

Maroela Media het vroeër berig klein Mienke is op 25 Augustus verlede jaar na die hospitaal gehaas nadat sy glo by ’n dagsorgsentrum in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ’n geruime tyd sonder suurstof. Sy is vir etlike weke in die hoësorgeenheid van ’n Johannesburgse hospitaal verpleeg.

Mienke se ouers het nog deurentyd gesê hulle klou vas aan hul geloof en glo dat hul dogtertjie, ondanks enige terugslae of slegte nuus van dokters, wel sal verbeter. Mienke se storie het sedert verlede jaar harte landwyd aangegryp en meer as 55 000 mense volg haar vordering op ’n spesiale Facebook-blad wat ter ondersteuning op die been gebring is.

Besoek die Facebook-blad Please Pray for Mienke vir inligting oor Mienke se vordering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lindtjies ·

Here Jesus, genees asseblief vir baba Mienke. Seën ook asseblief haar mamma, pappa en 2 sussies wat so bitter lief is vir haar. Maak hulle asseblief sterk dat hulle sal volhard. Vader U is ‘n God van wonders en is getrou. Dankie onse Vader. Amen

leser ·

sterkte aan mulder gesin
dis so hartseer as ons as mens nie regtig kan help nie
ek hou julle in my gebede en julle moet glo en vashou aan Sy Hand van Genesing

Hallelujah ·

Help asseblief Jesus – ons steek ons hande na boontoe en ons vra u hulp – help vir Mienkie en haar gesin. Groot Amen

Gesiggie ·

Klein Engel kind, mag Jesus al jou eina gou wegvat.. jy is n regte poppie met jou pikswart haartjies.. my hart gaan uit na Mamma en Pappa wat elke keer saam jou deur al die pyn moet gaan.. Jesus neem asb vir Mienke in U arms, raak haar aan en genees haar van al die seer, sodat sy weer kan lag en baljaar.. laat U Engele haar beskerm en bewaar,, Dankie Jesus.Hoop om gou goeie nuus te lees van haar goeie vordering.

Cheeky Rademeyer ·

Wees sterk in ons JESUS se hande
Cimarrons bly vir haar bid
AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.