Nog ʼn terugslag vir Gupta-maatskappy

Johannesburgse Aandelebeurs (JSE)

Oakbay Resources and Energy, die maatskappy wat deur die omstrede Gupta-familie besit word, het Maandag sy JSE-borg, River Group, verloor.

Dit volg nadat Sasfin Capital, Oakbay se vorige borg, in April verlede jaar sy borgskap van die maatskappy gekanselleer het. Die JSE het kort daarna ʼn kennisgewing aan Oakbay gestuur dat sy registrasie opgeskort sal word indien hy versuim om ʼn nuwe borg aan te stel soos die aandelebeurs vereis.

River Group het besluit om sy dienste met Oakbay te beëindig weens sy hersiene evaluering van die risiko’s wat verband hou met die maatskappy en sy aandeelhouers.

Oakbay het in ʼn verklaring gesê hy identifiseer tans ʼn nuwe borg om aan te stel. “Die beëindiging van River Group se dienste sal nie vroeër as 31 Julie 2017 van krag wees nie en aandeelhouers sal binnekort in kennis gestel word van die verwikkelinge in hierdie verband,” lui die verklaring.

Dit is die jongste terugslag vir die Gupta-familiebesighede wat reeds verskeie senior personeellede verloor het te midde van bewerings van politieke inmenging en staatskaping. Verlede jaar het Suid-Afrika se grootste banke, waaronder Absa, Nedbank, FNB en Standard Bank, hul sakeverhoudinge met die Guptas se besighede beëindig weens die politieke risiko daaraan verbonde om met die familie verbind te word.

Die ouditeursfirma KPMG en Sasfin Capital het albei as Oakbay se onderskeie diensverskaffers bedank weens kommer oor die familie se sakebedrywighede.

Oakbay het glo die afgelope boekjaar ʼn verlies van R1 miljard aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Alida ·

Mooi man die wiel draai en so sal nog BAIE wurms uit die blik kruip.

Johnny ·

As n Oupa en Pa vir my kinders het ek probeer om vir hul antwoorde te gee oor ons politiek nou sit ons in die aande en lag oor ons land met hul opvoeding kan hul nie glo wat in Suid Afrika aangaan nie

zoom zoom ·

Hoekom nader hulle nie die VBS bank wat zuma gehelp het met sy verband op nkandla

PJ ·

Lè beslag op die guptas se bates en verdeel dit onder die voorheen benadeeldes

al ·

Ons almal kry swaar, wit, swart en bruin, maar ja gee dit vir die armes om hulself te bemagtig om nie afhanklik te wees vir SASSA gelde.

jaco ·

die Guptas maak biljoene uit allerhande besighede met ons regering, maar hulle eie Oakbay ly verliese van R1 milhard. iets maak nie sin nie.

CHRISTA ·

Ek stem saam Jaco. Ek dink daardie R1 miljard is oorsee gestuur!!!

Pierre de Villiers ·

Baie skatrykes se laste oorskrei hul bates, maar steeds bly hulle “skatryk”.

John ·

Soek vir klein oortredings deur boetie Z en die Gupppies… en hul naaste… gewone verkeerdes. En vat hulle daarvoor vas. Dit kan die swere laat oopbreek. Ons konsentreer te hard op groot wen. Klein sake, onbelangrike skakels en klein muisies kan die vrot bonesak laat meegee. As gewone ouens begin sing sal die poppe begin dans… en toi….

broos ·

‘n verlies van R1 miljard maar ons kry ‘n tax terugbetaling van R70 miljoen????

Dries van Vuuren ·

Solank hulle net nie die Staatsdienspensioenfonds as borg wil gebruik nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.