Nóg ʼn terugslag vir KPMG

Foto: ANA

Die bankgroep Barclays Africa het Donderdag gesê die groep sal nie voortaan oorweeg om die beleërde KPMG as een van sy eksterne ouditeure aan te stel nie.

“Die voortgesette en onlangse verwikkelinge is deur die raad [van die bank] oorweeg en die raad het besluit hy is nie meer in staat om die heraanstelling van KPMG Inc. te ondersteun nie,” het die bankgroep in ʼn verklaring gesê.

Barclays Africa het duidelik verwys na die omstredenheid waarin die ouditeursfirma gedompel is insluitend die uitreiking van ʼn gediskrediteerde verslag oor ʼn eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

“Die aanstelling van KMPG as ʼn eksterne ouditeur van die groep sal tot ʼn einde kom met die voltooiing van die statutêre en regulerende oudit en verslagdoening aangaande die 2017 finansiële jaar, wat ongeveer op 31 Mei 2018 verwag word.”

KPMG Suid-Afrika het gesê hy is teleurgesteld deur die besluit, maar aanvaar dit ten volle. “Ons is baie trots op die werk wat ons vir die Barclays Africa-groep oor baie jare gedoen het en die toewyding en professionaliteit van die span wat aan hulle ʼn diens gelewer het,” het die maatskappy gesê.

“Ons het oor die afgelope sewe maande verreikende veranderinge geïmplementeer in alle aspekte van die firma, insluitende bestuur, kwaliteit en risikobestuur. Die werk om nog verder die kwaliteit van ons dienste en integriteit van ons professionele personeel te versterk, gaan steeds voort.”

KMPG het gesê die maatskappy werk hard om vertroue in die ouditeursfirma te herstel.

KPMG het in September verlede jaar sy Suid-Afrikaanse leierskap in die pad gesteek nadat daar bevind is dat werk wat vir maatskappye gedoen is wat aan die omstrede en welgestelde Gupta-familie behoort, nie op standaard was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leer nou ·

Smaak my julle het EENKEER te veel die hand in die koekieblik gehad .. so kom almal se skelmstreke uiteindelik uit .. Lekker geskep .. nou verloor julle byna alles .. LEER HIERUIT.

Gemaskerde Sopbeen ·

Is dit regverdig dat ‘n direkteur van ‘n maatskappy aanjaag….en ALMAL wat daar (hard en eerlik) werk se toekoms op die spel sit? Daar werk honderde mense wat almal afbetalingsooreenkomste het, en kinders grootmaak en versorg……en nou is hulle inkomste op die spel? En wie het daardie direkteure aangestel? Ek is lus en begin ‘n klas-aksie……

Adri ·

Ek voel vreeslik jammer vir die kinders wat hul articles by KPMG doen. Hul is onskuldig en dis baie hartseer dat hul loopbane so moes begin.

JOHAN ·

hoe lyk dit vir my dit is die transformasie direkteure wat so geknoei het

Von ·

Johan sekkondeer dit is presies wat hier gebeur het soos alles in ons land . Maak my woedend want onskuldige mense boet vir die wandade.

ontmasker ·

n mens moet deesdae tog n wag voor jou mond hou. eienaar van n klein firma was onlangs deur n stastssmptenaar gedreig dat hy die firma sal laat kpmg omdat daar geen swart vennoot / bestuurder is nie. hello? die ou en sy vrou doen alles tot uitvee en koffie. so hoe verkeerd was kpmg? ek dink nes enterprise ess hulle net te wit

SjN ·

Alles draai om kontrole by enige instelling, maak nie saak van grote nie, hoe groter, hoe harder die val.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.