Nóg ʼn terugslag vir Lily-mynwerkers

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Net meer as 18 maande ná bedrywighede by die Lily-myn in Barberton in Mpumalanga gestaak is nadat ʼn skeepshouer by die myn in ʼn reuse-sinkgat geval het, het nog ʼn terugslag die werkers by die myn getref.

Volgens die vakbond Solidariteit het die onderhandeling vir die oornametransaksie tussen Galane Gold en Vantage Goldfields, eienaar van die Lily- en Barbrook-myne, verlede week op die nippertjie skipbreuk gely. Die vakbond het in ʼn verklaring gesê sowel Vantage Goldfields as Galane Gold beskuldig mekaar oor en weer oor die rede vir dié mislukte transaksie, maar dit is op die ou end die werkers wat die prys betaal.

“Ingevolge die beoogde oornametransaksie van Vantage deur Galane sou die myne wat in besigheidsredding is, binne 100 dae weer in ʼn posisie gewees het om dié week weer in werking te wees. Intussen sou krediteure, wat werkers insluit, van hul agterstallige geld begin ontvang het,” lui die verklaring.

“Die werkers, wat in armoede gedompel is ná die Lily- en naburige Barbrook-myne in besigheidsredding geplaas is, was baie opgewonde toe Galane reeds ʼn suksesvolle volhoubaarheidstudie voltooi het en die transaksie verlede week beklink sou word. Letterlik enkele ure voor die finale ondertekening het die partye mekaar op grond van tegniese kwessies gepak, wat die transaksie tot niet laat gaan het.”

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het Maandag gesê hy is tydens gesprekke met Lily-myn se topbestuur meegedeel dat die transaksie heeltemal van die baan is en dat die Lily-bestuur nou twee ander opsies ondersoek. Du Plessis het dit beskryf as ʼn reuseterugslag vir die Lily-werkers en plaaslike gemeenskap wat afhanklik is van inkomste uit die myn en gesê die onsekerheid begin nou weer van voor af.

“Met elke transaksie wat oor die afgelope 18 maande misluk het, het dit ses maande geneem voordat ʼn volgende potensiële belegger of koper op die toneel verskyn het. Die soeke na ʼn koper of belegger is van belang om weer werksgeleenthede te skep en werkers se agterstallige salarisse te kan betaal, maar intussen is dit net die besigheidsreddingpraktisyn wat verryk word,” het hy gesê.

“Dit is nou tyd dat die skuldeisers en Lily-werkers die voor- en nadele van ʼn likwidasieproses teenoor besigheidsredding ondersoek. Sekerheid oor wat die toekoms inhou, is ook belangrik, want tot dusver was daar nog net vals hoop by die werkers geskep en dit help nie om dit langer uit te stel indien die slegste scenario uiteindelik werklikheid gaan word nie.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn skeepshouer wat as ʼn lampkamer gebruik is, het tydens die ineenstorting onder reuseklippe en grond beland. Die drie mynwerkers, Pretty Nkambule, Solomon Nyerende en Yvonne Mnisi, wat ten tyde van die tragedie in die skeepshouer was, is sedertdien nog nie gevind nie.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het gesê die departement het die jaar ná die grondstorting onverpoos gewerk om te verseker dat die skeepshouer gevind en na die oppervlak gebring word. Talle probleme, onder meer die verdere verswakking en ineenstorting van die grondwande rondom die gebied, het reddingspogings onmoontlik gemaak en dit is opgeskort om verdere lewensverlies te voorkom. Daar is in Junie gesê dat die soektog na die skeepshouer weer in September hervat sal word.

Volgens Du Plessis is die geregtelike ondersoek na die oorsaak van die mynongeluk by die Lily-myn afgehandel en die departement van minerale hulpbronne se uitspraak word binnekort verwag.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.