Nog ’n terugslag vir Noord-Kaapse boere

Weens die onverwagse ryp vandeesweek het talle Noord-Kaapse boere groot skade gely.

Verskeie boere in die Noord-Kaap het te midde van ’n voortslepende droogte nóg ’n terugslag vandeesweek beleef toe ryp groot dele van hul druiwe- en pekanneut-oeste beskadig het.

Lorna Basson, verbonde aan die tegniese afdeling van Red Sun Raisins in Keimoes, het gesê talle boere het groot skade gely. In dié stadium is dit egter moeilik om ʼn akkurate skadebepaling te doen, omdat sommige produsente eers veel later die presiese omvang van die rypskade gaan sien. Produsente in die omgewing van onder meer Upington, Ses Brugge, Kanoneiland en Groblershoop het skade gely.

“Hierdie was ʼn harde hou; ons het die ryp glad nie verwag nie,” het Basson gesê.

Sy het gesê produsente in die streek is ná 10 Oktober gewoonlik meer gerus dat die ryp vir eers agter die rug is. Dié onverwagse ryp, tesame met die voortslepende droogte in die streek, tref boere swaar.

“Dit slaan ons baie hard. Daar is ʼn kettingreaksie as daar droogte is. Dit vang nie net die boere nie, maar ook die werkers én sakeondernemings.

“Ons is afhanklik van die genade van Bo. Ons moet geduldig wees, maar die druk raak soms te veel. Wat moet jy maak?” het Basson gesê.

“My hart gaan uit na die boere. Ons bly op ons knieë.”

Carolina Viljoen se gesin boer onder meer met druiwe op ’n besproeiingsplaas buite Upington in die rigting van Groblershoop. Hiér het sekere blokke van vanjaar se druiwe-oes Woensdagoggend rypskade van tussen 70% en 90% opgedoen.

Die omvang van die skade gaan waarskynlik eers na die oestyd bepaal kan word.

Viljoen sê hulle het gehoop dat vanjaar se druiwe-oes die wa deur die drif sou trek te midde van die droogte waaronder boere tans hiér – en in talle ander dele in die land – steier.

“My man het Maandag verjaar. Hy het gesê hy kry elke jaar met sy verjaardag reën. Dié jaar was daar niks. Dit lyk soos ’n woestyn by ons,” het sy gesê.

Vandeesweek se kouefront het ’n skielike verandering in temperature te weeg gebring wat tot die ryp bygedra het.

“Die blare het verkrummel en alles het swart geword. Jy kan niks meer met die druiwe doen nie. Dit het in ’n oogwink gebeur,” het sy gesê.

Op die vraag hoe ʼn boer só ʼn terugslag hanteer, sê Viljoen: “Jy pak maar elke dag die dinge aan en behou perspektief. As jy jou daarteen gaan blindstaar, gaan jy depressief word en voel of jy nie kan aangaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lizelda ·

Hoe bly n mens staande as dit so sleg gaan? Ek voel so jammer vir al daai boere en vee.

Jack Sadie ·

Ek het dit in die 1970’s sien gebeur naby Upington. Soos die son opkom sien jy hoe die wingerd verswart. Aaklig! Ook vloede wat alles weggestroop het. Daardie boere het toe en sal
weer die bykans onmoontlike regkry en oorleef. Sterkte mense, my hart is nog na al die jare steeds by julle!

JohanR ·

Die boer is ‘n sterk derduiwel!!! Sterke aan julle manne en vroue.

Stel ·

Ons bid vir julle. Julle is regtig “sterk” mense en ‘n ongelooflike voorbeeld en inspirasie mag jul staande bly!!!!

Lyn ·

Wat mense nie besef nie, is dst meeste oeste met PROSUKSIE-LENINGS in die grond gesit word. In baie gevalle is dit bykans onmoontlik om te herstel van n mislukte oes, want volgende jaar se oes kan miskien suksesvol wees, maar hoe betaal mens 2 – 5 muljoen rand se lening terug? Miskien EEN jaar in SOMMIGE gevalle….maar kom n tweede mislukte oes, is dit amper onmoonrlik om weer op te staan.

Christa ·

Alles gebeur met n doel. Al is dit net Om ons Nader aan ons Skepper te bring. Sterkte, moenie Moed opgee nie. Bly op die knieë. Hy is getrou en regverdig en Geen gebede Gaan ongehoord by Hom verby nie. EK dra Elke Boer op aan ons Hemelvader. Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.