Terwyl Metrorail-treindienste steeds ontwrig is ná ʼn noodlottige treinongeluk Dinsdag by die Mountainview-stasie in Pretoria, is dienste in die Jakarandastad Vrydag nog verder vertraag nadat kabeldiewe deur die nag toegeslaan het.
Lillian Mofokeng, woordvoerder van Gauteng Metrorail, sê oorhoofse kettinglyndrade is by Winternest gesteel. Dit het daartoe gelei dat die treindienste tussen Belle Ombre-stasie en Mabopane-stasie, en tussen Mabopane- en Garankuwa-stasie ontwrig is.
Pendelaars se reise is al sedert vroegoggend met meer as ʼn uur vertraag aangesien treine slegs van ʼn enkele treinspoor tussen hierdie stasies gebruik kan maak.
Mofokeng sê tydelike maatreëls is ingestel om die ongerief sover moontlik te beperk. Dit sluit in:
- Een pendeltrein van Mabopane tot Winternest en terug na Mabopane;
- Een pendeltrein van De Wildt na Winternest en terug na De Wildt;
- Busse tussen Winternest- en Hercules-stasie;
- Pendeltrein tussen Hercules- en Bosmanstasie;
- Pendeltrein tussen Hercules- en Belle Ombre-stasie.
“Metrorail se tegniese spanne het reeds die omvang van die skade begin bepaal en sal so gou moontlik die gesteelde kabels vervang. Pendelaars word gemaan dat daar intussen geen kaartjies vir hierdie roetes verkoop sal word nie,” sê Mofokeng.
Intussen is die Mountainview-treinspoor steeds gesluit ná die ongeluk vroeër vandeesweek. Drie mense het gesterf en honderde is beseer toe ʼn Metrorail-trein van agter teen ʼn ander trein gebots het. Metrorail het vroeër gesê die skade aan infrastruktuur en treinwaens beloop sowat R21 miljoen.
Mofokeng het Vrydag gesê tegnici is steeds besig om die skade weens die ongeluk te herstel sodat dienste hervat kan word. Sy het ʼn beroep op pendelaars gedoen om nie Metrorail-personeel aan te rand of te teister omdat die treindienste ontwrig is nie aangesien Metrorail alles in sy vermoë doen om bedrywighede weer normaal te kry.
Wat n hopelose spul
Eintlik maar net n spieëlbeeld van hoe dit in etopia gaan. Mens kan die agteruitgang merkbaar bespeur
Welkom in SA.
Tot daar net mooi niks oor is nie…
Hopeloos die prasa ! Wat n grap ??????
Lekker in Suid Afrika………………………..
Hoe pateties gaan dit nie in Suid-Afrika nie. ‘n Trein is veronderstel om een van die veiligste vervoermiddels te wees.
Die land word deur terroriste regeer so wat verwag ons, natuurlik sabotasie.
Hel wat ń jollie plek is die nuwe SA.