Nóg ʼn terugslag vir Vereeniging-gesin

Carin en Jayvan Janse van Rensburg by die hospitaal. Foto: Facebook.

Carin en Jayvan Janse van Rensburg by die hospitaal. Foto: Facebook.

ʼn Gebroke ma wat byna vyf maande gelede afskeid moes neem van haar man wat wreed vermoor is, vra vir gebede nadat een van die egpaar se tweejarige tweelingseuns pas met beenkanker gediagnoseer is.

Carin Janse van Rensburg, ʼn inwoner van Vereeniging in Gauteng, het Woensdag aan Maroela Media gesê aangesien 2015 vir haar so tragies was, het sy meer hoop vir 2016  gehad, net om ses dae ná Nuwejaar te verneem dat haar seun beenkanker het.

“Jayvan het op 1 Januarie begin siek word en gesê sy beentjie is seer. Hy het die vorige aand lekker saam met maatjies gespeel en ek het aanvanklik gedink hy het net ʼn spier gerek. Dinge het egter erger geraak en ek het hom die volgende dag na ʼn hospitaal geneem,” het Janse van Rensburg gesê.

Ná verskeie toetse en ʼn gewag vir uitslae is Jayvan op 6 Januarie met beenkanker gediagnoseer. “Ons het hom op 7 Januarie na die Wits Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg geneem waar verdere toetse op hom gedoen is om te bepaal of die kanker verder versprei het. Ons sal Vrydag meer hieroor weet en dan sal daar bepaal word watter behandeling vir hom voorlê.”

Jayvan en sy tweelingboetie, Blake.

Jayvan en sy tweelingboetie, Blake.

Janse van Rensburg glo in die krag van gebed en het kort nadat sy die nuus ontvang het, ʼn blad op Facebook begin om mense te versoek om vir hom te bid en om nuus oor sy toestand te deel.

Sy het onderneem om elke week vir haar blonde krulkoppie ʼn brief te skryf “en so die tyd af te tel tot sy eina beter is”.

“Ek het Sondag die swaar ding gedoen om vir sy ses boeties en sussies te vertel dat hy baie siek is. Ons harte is stukkend nes die dag vyf maande gelede toe ek vir hulle moes vertel dat hulle pappa dood is en na liewe Jesus toe is.”

Jayvan in die hospitaal.

Jayvan in die hospitaal.

Maroela Media het destyds berig Jayvan se pa, Anton (52), is op 12 Augustus naby die huis in Drie Riviere waar hy en sy gesin skaars twee weke tevore ingetrek het, deur gewapende rowers oorval en geskiet. Die skietery het gevolg nadat Anton een van sy seuns en hul twee huiswerkers te hulp gesnel het nadat hulle deur dieselfde groep mans in die huis aangehou en beroof is. Lees meer hier.

Maroela Media het in Maart 2015 ook oor die Janse van Rensburg-gesin berig toe Anton en Carin ʼn jare lange Dawid vs. Goliat-hofsaak teen die Gautengse departement van onderwys  gewen het nadat hul dogter, Chanté, op agtjarige ouderdom op 22 Julie 2008 in raaiselagtige omstandighede by haar laerskool geval het. Die besering het haar lewe handomkeer verander. Lees meer hier.

Jayvan se tweelingboetie se naam is Blake. Sy ander boeties is Marco (28), Enrico (8) en Tegan (7). Sy sussies is Chanté (15) en Rulyn (12).

Support Jayvan Janse Van Rensburg” het sedert dit gestig is reeds meer as 700 Facebook-ondersteuners gekry. “Baie dankie vir almal se gebede daar buite en asseblief moenie ophou bid vir my kleine menselyfie nie. Mooi week vir almal,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

PJ ·

My simpatie met u mevrou was dit nie vir die nuwe SA van de klerk en kie was die kanse goed dat u eggenote nou by u kon gewees het om u by te staan in hierdie moeilike tyd. Sterkte

Melanie Pretorius ·

Geniet nuus wat saak maak, sal graag meer wil sien

Berhalet Beukes ·

My opregte meegevoel… Dis hartverskeurend om an die nuus te verneem! Mag God hierdie kind bo alle verwagting gesond maak!

Raymary ·

Mammie my hart gaan uit na u en u kinders spesiaal diegene met die siekte. Is hartseer om te dink dat u man so wreed van u n gesin af wegeneem is en u deur hierdie stryd moet gaan alleen as enkel ouer, maar weet dat god is altyd daar vir u al lyk die probleem hoe groot en die stryd te swaar, sy krag word reeds in swakheid openbaar aan die genes wat bemoeid is. Ek dra u op in my gebede en dink aan u en gesin.

Tina du Toit ·

Baie jammer om al jou seer te hoor. Ons dra julle almal in ons gebede. Mag God julle optel en dra waar julle meer kan loop nie. Baie sterkte.

SNEL ·

Sjoe, Carin, jy is omtrent al deur diep water. Baie jammer om die nuus te verneem, gaan beslis bid vir Jayvan en gebed het krag. Baie sterkte vir jou, mag die Here jou krag gee vir elke dag.

Hoop Maroela hou ons op hoogte van die dr se uitslae van Vrydag.

Champ ·

Hoe wreed kan die lewe soms nie wees nie, simpatie met u mev, ek wil graag vir u se, waar die verstand van mense ophou juis daar begin die almag van God! Kindjie die Here seen u en behou u, die Here laat Sy aangesig oor u skyn, die Here bewaar u vir Sy ewige lewe, gaan en word gesond in die naam van Jesus Amen

Liewe Heksie ·

baie STERKTE Carin mag GOD jul dra in die tyd en ek glo GOD sal die pad saam julle as gesin loop en mag 2016 tog vir jou n beter jaar wees

Gesiggie ·

Hoe kan die lewe n mens so baie seermaak? Hoekom moet party mense deur soveel seer gaan… Carin ek kan net aan jou dit deel: Vra God om jou te help, om jou lewe te sien soos Hy dit sien…. Wy jou dan opnuut toe aan sy plan vir jou Lewe… Mag jou seuntjie se pyn verlig word … en mag jul as gesin in Geloof bly staan.. met die wete dat God jul sal dra…. in al die moeilikke en swaar tye.. Sterkte aan jou en aan Jayvan.

Eliza-beth ·

Ai dis BAIE erg – die pyn en ook die behandeling wat so kleinding moet meemaak is onverstaanbaar vir ons gesonde mense. Ek weet nie of daar ander maniere (behalwe gebed) is waarop mens die gesin kan bystaan nie. Ek is nie op FB nie, maar as Maroela dalkies vi rons kan uitvind? Mens sou graag wou help as mens kon. Sterke aan die gesin en julle is beslis in my gebede.

Magda Bothma ·

Carin ek was die ene hoendelvleis toe ek die berig gelees het oor jou seuntjie. Dit het met my seun ook gebeur (destyds 5 jaar oud) en moes ons ook ‘n biopsie laat doen om te kyk hoe ver die kanker versprei het. Terwyl hy in die teater was het omtrent die hele land vir hom gebid. Die ontleding is onmiddellik gedoen en kon daar geen kanker gevind word nie. Die span dokters het aan my vertel dit is ‘n absolute wonderwerk. Dit wys maar net die krag van gebed. Vandag is hy 31 en gesond. Sterkte ek bid saam met die land vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.