Skaars ʼn paar dae nadat ʼn bus vol Nederlandse toeriste op hul toerbus in Johannesburg beroof is, is nóg ʼn buitelandse toeris in haar hotelkamer in Limpopo beroof.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het Vrydag aan Maroela Media gesê die vrou, in haar 40’s, is Donderdag in die vroeë oggendure by ʼn plaaslike hotel in Haenertsburg buite Tzaneen beroof.
“Onbekende verdagtes het toegang tot die buitegeboue van die hotel verkry en terwyl hulle daar was, het hulle by vier eenhede ingebreek,” het Ngoepe gesê.
Ngoepe het gesê die toeris het in een van die eenhede geslaap en die ander drie was leeg.
“Hulle het in die vrou se kamer ʼn tabletrekenaar, ʼn verkyker, ʼn kamera, tekkies, klere, grimering en reisdokumente geroof. Die vrou is nie tydens die voorval beseer nie.”
Drie plasmatelevisies is uit die ander kamers gesteel.
Volgens Ngoepe ondersoek die hotel in Haenertsburg net ʼn saak van inbraak en diefstal, aangesien die toeris nie ʼn verklaring wou aflê om die polisie in staat te stel om ʼn saak van sakeroof te ondersoek nie. Hy het gesê teenstrydig met ander mediaberigte, was daar net een toeris in die kamer.
Maroela Media het vroeër berig die 36 Nederlandse toeriste, meestal bejaardes, is Sondag in hul toerbus oorval kort nadat hulle by die OR Tambo-lughawe geland het vir ʼn 22 dae lange toer deur die land. Die toeriste was onderweg na ʼn lodge toe die busbestuurder glo gedwing is om stil te hou deur ʼn man wat vermoedelik ʼn gemerkte polisievoertuig gery en ʼn polisie-uniform aangehad het.
Daarna het vyf verdagtes in siviele kleredrag op die bus geklim en die toeriste van hul persoonlike items asook bagasie beroof. Twee toeriste is tydens die voorval beseer en moes na ʼn hospitaal geneem word vir behandeling.
Fikile Mbalula, die minister van polisie, het Dinsdag die aanval op toeriste veroordeel.
Hy het gesê toerisme is deel van die land se ekonomiese drywers, verskaf werk en moet beskerm word. “Deel hiervan is om te verseker dat ons toeriste nie net veilig hier voel nie, maar ook is. Ek versoek ʼn swaar straf vir diegene wat hiervoor verantwoordelik is,” het hy gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
28 Kommentare
Alhoewel die toeriste nou die nuus maak is hierdie ding lankal aan die gang met ons gewone mense; my buurman is hierdie week helder oor dag by ‘n kruising en rooi verkkerslig met ‘n vuurwapen teen die kop deur sy kar se venster van sy selfoon verlig. Polisie trek maar net skouers op, wat moet hulle tog nou daaraan doen?
Ja nee ek sal maar toeriste so ver moontlok waarsku om uit hierdie wettelose land te bly.
Gisteraand op e-tv nuus 7uur vertel hulle hoe groot pesentasie het toerisme op gegaan. Skielik nou in die nuus…… laat mens wonder hoe waar dit is ne?
Daarsy, nog n berig wat ek hier kan wys, en hulle oortuig om uit daai plek te bly, en eerder hul geld in veilige lande gaan spandeer.
Nee wat ek het geen simpatie. Elke dag word ons deur daai een gesit. Kry vir julle stukkie van die koek.