Nóg ʼn tragedie ruk Helpende Hand

Monica Annandale. Foto: Verskaf

Monica Annandale. Foto: Verskaf

Solidariteit Helpende Hand is die afgelope week geruk deur die tragiese ongeluk van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur, en sy gesin waarin twee van sy kinders dood is.

Op 17 Desember het nog ’n lid van die Helpende Hand-span, Monica Annandale van die Thabazimbi-tak, haar lewe in ’n motorongeluk verloor.

“Helpende Hand is diep geraak deur die tragiese afsterwe van Annandale. Sy het een van die eerste takke in Limpopo gestig en is reeds sewe jaar betrokke by Helpende Hand,” het Ernst Vorster, Helpende Hand se hoof van kommunikasie, Maandag aan Maroela Media gesê.

Volgens Marianthie van der Walt, Helpende Hand se streeksorganiseerder in Limpopo, was Annandale ’n voortreflike mens met baie liefde vir haar medemens. “Monica was die hart van ons Thabazimbi-tak. Ons kan net bid dat die Here haar geliefdes in hierdie moeilike tyd omvou met sy liefde en hulle krag gee. Haar passie was die Skooltassie-projek. Ek het vir John gesê dat ek saam met hom die tassies op 10 Januarie sal gaan uitdeel ter nagedagtenis aan Monica,” het Van der Walt gesê.

Vorster het die verlies as dubbele tragedie beskryf. “Hierdie Kerstyd sal vir lank in die Helpende Hand-span se geheue agterbly as ’n hartseer tyd. Dis vir ons ’n dubbele slag met die verlies van Danie se kinders en nou Monica se afsterwe. Ons harte gaan ook uit na John en die kinders en ons bid vir hul vertroosting.”

Annandale word oorleef deur haar man, John, en drie kinders. Die noodlottige ongeluk het plaasgevind op die pad tussen Thabazimbi en Ellisras waar die Annandales ’n besigheid bedryf het. Daar word vermoed dat sy vir iets in die pad uitgeswaai het waarna haar motor ‘n betonversperring langs die pad getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vivian ·

Innige meegevoel vir fie familie. Mag jul Christus ervaar in die tyd jul deurdra.

Judean Jansen van Vuuren ·

Here gaan asb saam met haar man en kinders, hulle het U vreeslik nodig in hierdie tyd. Amen

Ludwig ·

My innige simpatie en meegevoel aan haar familie, vriende en kollegas.

Olgadene ·

Monica was ‘n vrou wat so Lief was vir haar medemens en altyd gereed gestaan Het om te help. Ons gaan haar so mis. Johan en die meisiekinders, ons harte is seer sa julle. Ons bid dat ons Vader julle styf vashou in hierdie hartseer tyd. Monica ons gaan jou so baie mis

Olgadene ·

Ai die fout gogga (auto spell check) Ek bedoel John. Jammer vir die fout

ada ·

So jammer om van hierdie ramp te verneem. Ek hoop die pappa en kinders kry vertroosting by Liewe Jesus. Mamma is nou by Liewe Jesus.Sterkte vorentoe.

Sarie ·

Dit is baie hartseer vir mense wat so goed doen vir hul naaste. Mag julle in vrede rus en mag God julle families vertroos in die tyd. God Bless

Fanie Kemp ·

Ons bid vir vertroosting en krag deur ons Hemelse Vader vir die gesin en ander familie.
Haar omgee en liefdesdiens deur haar betrokkenheid by Helpende hand sal altyd as mooi herinnering dien.

al ·

dis hartseer dat goeie mense wat soveel beteken vir hul gemeenskap so vroeg doodgaan. Sterkte aan die families en my innige simpatie.

sarie van heerden ·

Mens staan stomgeslaan en kan net vra: HOEKOM / WAAROM? terwyl jy weet daar is vir ons nie antwoorde nie.

Ansie Geldenhuys ·

Dood is finaal en elkeen wat agterbly, rou op sy eie manier. Innige simpatie met al die betrokkenes. Dis voorwaar ‘n groot verlies.

Adle ·

Baie sterkte aan al 2 die famielies wat deur hierdie moeilike tyd gaan, HEER WEES ASB MET HUL, hou hul styf vas JESUS. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.