Nog ʼn tragedie tref familie van vermoorde Matie-student

Anna en Hannah Cornelius in gelukkiger tye. Foto: Verskaf

Nog ʼn tragedie het die familie getref van Hannah Cornelius (21), die Matie-student wat verlede jaar in Stellenbosch deur vier mans ontvoer, verkrag en vermoor is.

Hannah se ma, Anna Cornelius (56), het Sondag in die see by Scarborough in Kaapstad na bewering tydens haar roetine-oggendswem verdrink.

Ian Klopper, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Kommetjie, het gesê NSRI-vrywilligers is Sondag omstreeks 09:00 na Scarborough ontbied nadat ʼn ooggetuie ʼn liggaam in die see sien dryf het.

“By ons aankoms op die toneel is die liggaam van ʼn volwasse vrou, sowat 150 meter van die kuslyn af, gevind en uit die water gehaal. Sy is op die toneel deur paramedici dood verklaar,” het Klopper gesê.

Anna, ʼn prokureur, het ná haar dogter se moord die Hannah Cornelius-stigting gestig om ondersteuning te bied aan ouers wat kinders aan die dood afgestaan het.

Lily Reed, die uitvoerende hoof van dié stigting, het ná die voorval Anna se dood bevestig en haar hartseer en skok uitgespreek.

“Anna Cornelius, toegewyde moeder van Hannah en Dries, en liefdevolle vrou van landdros Willem Cornelius, is Sondagoggend onverwags in Scarborough oorlede,” het Reed gesê.

“Anna was ʼn wonderlike mens, vol lig en energie. Sy is nou saam met haar dogter en rus in vrede.”

Reed het gesê die familie het versoek dat hul privaatheid in die moeilike tyd respekteer word.

Maroela Media het vroeër berig Hannah, ʼn tweedejaar-BA-student, en haar vriend, Cheslin Marsh, ’n medestudent wat teologie studeer, is 27 Mei 2017 in die vroeë oggendure in Birdstraat, Stellenbosch, beroof en ontvoer en die motor gekaap. Marsh is in ʼn stadium uit die motor geruk, met bakstene teen die kop gegooi en in Kraaifontein vir dood agtergelaat. Cornelius se liggaam is Saterdag omstreeks 08:30 naby ʼn bekende wynplaas op die Knorhoekpad buite Stellenbosch aangetref.

Vier verdagtes is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Hulle is Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Nashwill Julies en Eben van Niekerk en staan tereg op aanklagte van verkragting, moord en poging tot moord. Hulle voorverhoor sal na verwagting op 20 April in die Kaapstad-hooggeregshof begin.

Lees die vorige berigte oor Hannah Cornelius op Maroela Media.

Hannah Cornelius (Foto verskaf aan Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Penelope ·

Sjoe dis tragies. Al wat ‘n mens kan doen is bid vir hierdie familie! Mag God julle vertroos in hierdie moeilike tyd.

apie ·

‘n mens wil op jou kniee val en ween sonder ophou……. :'( Baie sterkte aan die familie

Oom Kalahari ·

Dit is datem regtig hartseer om 2 lede van een familie in sokort tydperk te verloor. Alle simpatie aan hierdie familie, naasbestaandes en vriende en die trauma wat jul almal deurgaan met die skielike verlies. Ma God jul deur hierdie swaar tye vertroos en die krag en leiding gee.

Gesiggie ·

Dit is nou al soveel kere wat n mens die Berig moes lees… Nog n Tragedie tref so en so… dit is vir my so Hartseer dat n Familie deur soveel seer moet gaan, n mens kan sien dat Anna n liefdevolle mens was….n mens vra net? hoekom nou sy ook…ek glo nie enige Ma sal of kan ooit die dood van n kind verwerk… wat het die Pa nou nog oor… sy vrou en dogter is nie meer daar, my Innige meegvoel aan die Familie .. nou is Ma en dogter weer saam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.