Nog ʼn transitorooftog gefnuik

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Tweede poging tot ʼn transitorooftog in twee dae is Woensdag in KwaZulu-Natal gefnuik.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê dié voorval het vroeg vanoggend op die R34 tussen Nkwalini en Empangeni naby die Mfuli-wildreservaat plaasgevind.

“Die polisie se spesiale taakspan en die nasionale ingrypingseenheid (NIU) is proaktief gemobiliseer ná intelligensie ontvang is dat die veiligheidswa aangeval gaan word,” het Naidoo gesê.

Naidoo verduidelik die bestuurder van die geldwa het op die R34 stompe in die pad gewaar, en soos hy spoed verminder het, het die verdagtes op hul losgebrand.

“Beamptes van die taakspan en die NIU het teruggeskiet en die verdagtes is genoodsaak om in ʼn bakkie van die toneel te vlug. ʼn Toyota Hilux is later verlate by Mthunzini aangetref,” het Naidoo gesê.

Volgens Naidoo is een polisiebeampte tydens die skietgeveg beseer, maar is daar geen geld gesteel tydens die voorval nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Maroela Media het Dinsdag berig ʼn ander poging tot ʼn transitorooftog is gefnuik nadat wagte van ʼn veiligheidsmaatskappy teruggeveg het toe aanvallers in twee luukse voertuie op die geldwa toegeslaan het.

“ʼn Veiligheidswa met drie insittendes het geld van Dundee na Nqutu vervoer toe hulle aangeval is deur ʼn groep onbekende mans wat op hulle losgebrand het en die geldwa gedwing het om die pad te verlaat,” het Naidoo vroeër gesê.

Volgens Naidoo het ʼn skietgeveg tussen die wagte en die verdagtes uitgebreek en die verdagtes het van die toneel gevlug in ʼn wit Hilux-bakkie en ʼn wit Audi wat later verlate langs die Helpmekaar-grondpad aangetref is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gatvol ·

Bewerkstellig om hemelsnaam ñ radikale vermindering van kriminele!

leser ·

“GOOD SHOW” weereens
is die hilux bakkie wat naby mtunzini gevind is nie dalk dieselfde een wat by die vorige rooftog die hasepad gekies het, nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.