Nóg ʼn tropiese storm op pad

Satellietfoto van matige tropiese storm Guambe (17 Februarie 2021) (Foto: EUMETSAT 2021 via SA Weerdiens)

Kort ná tropiese sikloon Eloise swaar reën en oorstromings in Suider-Afrika veroorsaak het, het nog ʼn tropiese storm, genaamd Guambe, ontwikkel en word tans al hoe sterker in die suidelike helfte van die Mosambiekkanaal.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gesê volgens huidige voorspellings sal Guambe nie enige negatiewe impak op Suid-Afrika in die komende paar dae hê nie, en die stelsel sal na verwagting oos van die land se grense bly.

Guambe is die sewende tropiese stelsel in die suidwestelike Indiese Oseaan hierdie seisoen en word tans geklassifiseer as ʼn matige tropiese storm met ʼn sentrale drukking van 990 hPa (hektopascal), maar sal oor die volgende paar dae sterker word.

As ʼn matige tropiese storm sal Guambe gepaard gaan met oppervlakwind van tussen 63 en 89 km/h.

Alhoewel Suid-Afrika waarskynlik nie enige negatiewe impak van Guambe sal beleef nie, sal ʼn kombinasie van spoelreën en grootskaalse oorstromings ʼn groot deel van die kus en aangrensende binneland van suidelike Mosambiek tref.

“Dit is tans hoogs onwaarskynlik dat Guambe Suid-Afrika direk sal raak, maar die Suid-Afrikaanse Weerdiens wil graag benadruk dat, net soos met alle tropiese storms wêreldwyd, is daar baie onsekerheid oor die akkurate voorspelling van toekomstige beweging van Guambe. Tropiese storms is grootliks onvoorspelbaar en het soms onreëlmatige bewegings.”

Die jongste voorspelling van Guambe oor die volgende paar dae (Foto: Verskaf deur WMO RSMC La Reunion (MeteoFrance) via SA Weerdiens)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanNL ·

Hi Maroela, as die storm SA gaan mis, is dit dan werklik “op pad”? Ek dink maar net dat dit onnodig paniek kan veroorsaak?

Cherokee ·

Johan, die berig sê nie dat dit SA (beslis) sal verby gaan nie, maar sê slegs dat dit waarskynlik nie oor die grense sal insypel nie. Mense wat paniekerig raak oor sò iets, moet liewer strokiesverhale lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.