Nóg ʼn vakbond wil reusestaking onderneem

Nupsaw sal op 23 Augustus na Pretoria opruk. (Foto: Facebook)

Nóg ʼn vakbond wil ʼn reusestaking onderneem uit protes teen breër maatskaplike bekommernisse wat voortspruit uit swak bestuur, korrupsie en “baie ander mislukkings aan die regering se kant”.

Die National Union of Public Service and Allied Workers (Nupsaw) se beplande betoging op 23 Augustus sal ʼn dag voor Cosatu en die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu) se landswye staking gehou word.

Solly Malema, sekretaris van Nupsaw, het in ʼn verklaring gesê die beplande staking kom ná die werkersklasberaad wat deur Saftu gehou is.

“Nupsaw se staking sal deel wees van die opbou na Saftu se pogings om ʼn nasionale stilstand op 24 Augustus af te dwing,” het hy bygevoeg.

“Gevolglik sal die werkersklasgemeenskap, gelei deur Nupsaw, toesien dat verskeie kantore van die staatsdepartemente in Pretoria beset word.”

Nupsaw, wat deel is van Saftu, het meer as 10 000 lede.

Volgens die vakbond het die regering se vele mislukkings tot stygende lewenskoste, beurtkrag, hemelhoë brandstofpryse en werksverliese onder Suid-Afrikaners gelei.

“Ons betoging sal daarop fokus om hierdie sosio-ekonomiese uitdagings aan te raak, aangesien dit nou al krisisvlak bereik het.”

Malema sê hulle sal in hul massas na die kantoor van die departement van gesondheid opruk en onder meer eis dat gemeenskapsgesondheidswerkers en Covid-19-kontrakwerkers permanent aangestel word. Veiligheidsbeamptes en skoonmakers moet ook voorts vanaf binne die departement aangestel word, eerder as om dié dienste uit te kontrakteer.

Nadat die vakbond na ʼn verskeidenheid van staatsdepartemente se kantore opgeruk het, sal hulle na die nasionale tesourie en die Staatspensioen-administrasie-agentskap gaan om hul misnoeë uit te spreek “oor die wyse waarop die skema werkers se pensioenfondse wanbestuur”.

“Ons sal ook eis dat die waarnemende uitvoerende hoof van sy amp onthef word en liefs met ʼn bekwame en gekwalifiseerde uitvoerende hoof vervang word.”

Die vakbond hoop om eindelik pres. Cyril Ramaphosa te dwing om na die Uniegebou te gaan om hul memorandum van eise te ontvang. Die eise wat hierin vervat word, sluit in dat die president beurtkrag en die privatisering van staatsondernemings beëindig, die voortslepende werkloosheid aanpak, asook geweldsmisdade, polisiemoorde en geslagsgebaseerde geweld takel.

ʼn Dag nadat daar beplan word om na die Pretoria-middestad op te ruk, sal Cosatu en Saftu na onder meer Rustenburg, Klerksdorp, Mahikeng en Pretoria opruk om oor dieselfde bekommernisse te betoog.

“Ons wil druk op die regering én die private sektor plaas om die sosio-ekonomiese uitdagings reg te stel en op te los,” het Zingiswa Losi, Cosatu se president, Donderdag tydens ʼn inligtingsessie gesê.

Dit is nie duidelik of enige van die beplande stakings wettig is nie.

TLU SA is ook bekommerd dat daar sabotasie aan infrastruktuur gedurende die reusestakings kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johann ·

Ons land bloei…maar díe selfaangwese mags mal massa opsweepers sal die laaste ekonomiese stabiliteit met hulle “opstande” uit ons wurg. Of gaan hulle dit afbrand? Plunder? Leeg dra? Verwoes….?

Net geen minimum basiese funksionele logika nie! Weet net van dreig en verwoes en demand.

Gaitsigubib ·

Johann ek is altyd so bietjie stomgeslaan omdat ek nie die afmerkers se logika (of tekort aan logika) kan begryp nie. Dit waarvan jy praat is presies hoe stakings is SA beskryf kan word. Dis uiters geweldadig. Hierdie week kan rof raak, so pas julle self op.

Vexed ·

As jy wil staak sal jy wel ‘n verskoning kry, beter as werk… of so hoor ek.

Waarnemer ·

Gaan cosatu en saftu darem nogwerk op die 23ste en gaan naftu darem weer werk op die 24ste?

Flip ·

Wat help dit julle staak en breek en brand want met die volgende verkiesing stem julle weer vir dieselde onbekwame idiote omdat julle n t-hemp en n toebroodjie gekry het voor die verkiesing?

T-Man ·

Ek wonder wanneer vakbonde gaan besef hulle is deel van die probleme van die land.

Nettie ·

Hulle beplan om geboue te “beset”? Dit kan nie wettig wees nie, kan dit?
En hoe wil Cosatu die land lam lê deur in 4 areas/dorpe/stede te staak?

jzjz05 ·

Die Guptas het ons land groot verliese met hul handelinge gemaak.maar die fakbonde laat hulle maar klein lyk teen wat hulle die SA ekonomie kos. Daar moet eerder n komiesie aangestel word om
Fakdonde se bestaansreg te ondersòek.

efjy ·

Kan die vakbonde nie maar net vergeet van die stakings nie, en aangesien hulle ontevrede is met hoe die land regeer word (of die gebrek daaraan) maar net vir hul lede te vra om dit met die volgende verkiesing reg te stel nie.

Keelvol ·

Kom ons vernietig die ekonomie… want ons is mos selfsugtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.