Nóg ʼn veer in Kaapstad se toerisme-hoed

Kaapstad. (Foto: pixabay)

Duisende lesers van die Britse koerant The Telegraph het Kaapstad vir die sewende agtereenvolgende keer aangewys as die wêreld se beste stad om te besoek.

Die Moederstad het die eerste plek weggeraap voor Vancouver in Kanada en Kioto in Japan.

Die koerant se lesers is veral gaande oor die golwende berge – geklee in die wêreld se rykste blommeprag – die vrugbare valleie en windverwaaide vlaktes waar onverwagse kulinêre skatte gevind kan word.

(Foto: Facebook)

“Toekennings soos dié val nie sommer uit die lug nie. Die feit dat duisende reisigers gestem het vir Kaapstad as die beste stad om te besoek, is die gevolg van die harde werk van die stad se bemarkingspan, asook ons bestemmingsbemarkingsvennoot, Kaapstad-toerisme,” het James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, gesê.

“Ons stad het soveel om aan almal te bied, maak nie saak waarna jy op soek is nie. Ons het uiteenlopende kulturele en erfeniservarings wat aan ons die geleentheid bied om ʼn hele nuwe aanslag tot kulturele toerisme te volg. Dit bied aan toeriste selfs méér om te ontdek.”

Vos het gesê deur te fokus op gemeenskapsgebaseerde toerisme-aanbiedings, terwyl Kaapstad se meer bekende en indrukwekkende toerismebestemmings bemark word, gaan toerisme in die stad gedy.

MyCiTi-bus in Kaapstad (Foto: Facebook)

Die stad is ook besig met die inwerkingstelling van ʼn nuwe toerismeontwikkelingsraamwerk wat die metroraad onlangs aanvaar het.

“My onmiddellike prioriteit is om die doeltreffende inwerkingstelling van die raamwerk te verseker, sodat ons kulturele ervarings ʼn hupstoot kan gee en toerisme-aanbiedinge kan uitbrei. Dit gaan weer lei tot groter betrokkenheid in sekere gemeenskappe wat dan kan voordeel trek uit die miljoene jaarlikse besoekers,” het Vos gesê.

The Telegraph se lesers het Nieu-Seeland aangewys as die beste land om te besoek, gevolg deur Japan en Maledive.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaap ·

Ja en misdaad en veiligheid is seker nie genoem nie.Anders is SA heel agter.
Baie meer mense in die buiteland weet en hoor van SA se misdaad en veiligheid.
Helse probleem word as so aangaan.

Heksie ·

seblief los net alle beursies en handsakke en tasse en laptops en juwele by die huis…. dan is julle veilig

bokke ·

Dank aan die DA dat hulle Kaapstad so goed bestuur. Voorwaar die beste toeristestad in SA en die wêreld. Ongelukkig trek die res van SA ons land se waarde as vakansiebestemming af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.