Nóg ʼn veloorplanting vir baba wat met olie brand

Jaydené en haar ma, Jackie Croucamp (Foto verskaf aan Maroela Media)

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig kan sensitiewe lesers of kinders ontstel.

Klein Jaydené Croucamp, die 14 maande oue dogtertjie wat net meer as drie weke gelede met kokende olie gebrand het, moet oor twee weke nog ʼn veloorplanting ondergaan.

Chantelle Botha, Jaydené se tannie, het aan Maroela Media gesê Jaydené se wonde is Maandag vir die eerste keer sedert sy Saterdag ontslaan is weer by die hospitaal oopgemaak en versorg.

“Jackie [Jaydené se ma en Chantelle se sussie] was nogal ontsteld; sy sê dit lyk of daar gate by Jaydené se vel inval,” het Botha gesê. Die dokters meen egter daar is nie in dié stadium rede tot kommer nie.

Botha vertel die plek agter Jaydené se oortjie in haar nek is nog baie rou en dis daar waar die veloorplanting moet plaasvind. “Hulle gaan vel van haar ruggie af vat. Dokters het Maandag en gister en [Dinsdag] gekyk of hulle dit sal kan doen.”

Die operasie sal by die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth gedoen word. Botha vertel dat Jaydené nog baie pyn ervaar en een van die aande by die huis vreeslik gesukkel het om te slaap.

“Daar is soveel mense wat vir haar omgee en boodskappe stuur, mense wat ons nie eens ken nie. Ons is baie dankbaar daarvoor. Ek probeer nou juis my man se arm draai dat ek weer kan afry [uit Kathu in die Noord-Kaap waar sy woon], enigiets vir daardie kleintjie!” skerts sy.

Maroela Media het vroeër berig Jaydené het brandwonde oor 30% van haar lyf opgedoen toe sy Sondag 15 Julie ʼn braaipan met kokende olie op haarself omgetrek het. Sy het brandwonde aan haar bors, rug en gesig opgedoen, waarvan sommige derdegraadse brandwonde was. Sy is onmiddellik ná die voorval eers na die Livingstone-hospitaal gehaas waar die gesin na die Dora Nginza-hospitaal verwys is omdat dié hospitaal glo beter toegerus is om brandnoodgevalle te hanteer.

Die ongeluk het die middag omstreeks 17:00 gebeur terwyl Jackie aandete voorberei het. Sy het olie in ʼn braaipan verhit om aartappels te braai en Jaydené het ʼn paar meter weg van die kas gesit en speel. “Ek het omgedraai om ʼn bak net op die kas agter my neer te sit en in daardie oomblik het Jaydené verby my geglip en die braaipan op haarself omgekeer.”

Foto: Verskaf aan Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie ·

Met kinders moet jy waarlik oë agter jou kop ook nog hê. Hulle is blitsvinnig! Ai, ek hoop sy word gou gesond, en dat haar wonde wonderbaarlik sal herstel. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.