Nog ʼn verdagte vas in Krejcir-saak

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes/SAPA

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die eienaar van ʼn private veiligheidsmaatskappy is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die saak van die omstrede Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir.

Lt.genl. Solomon Makgale, ʼn polisiewoordvoerder, sê die man het na bewering GPS-koördinate aan sluipmoordenaars verskaf vir die moord op die Libanees Sam Issa. Issa het bande met Krejcir gehad. Makgale sê die polisie het ook op ʼn AK47 en ʼn 9mm-pistool, wat vir die sluipmoord op Issa gebruik is, beslag gelê. Dit is nog nie bekend waar dié wapens aangetref is nie.

Die verdagte is ʼn 36-jarige Suid-Afrikaner. Hy verskyn Vrydag in die Alexandra-landdroshof saam met Krejcir, Owen Serero, Jacob Nare, Siboniso Miya, Zudumo Biyela, sers. Nandi Nkosi, Welcome Mafunda,  Mike Borislov Grigorov en Siphiwe Memela op aanklagte van sameswering tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook vir die moorde op Issa en  Phumlani Ncube.

“Die bykomende aanklagte sal na verwagting vandag voorgelê word, waarna die saak na die hooggeregshof verwys gaan word,” het Makgale bygevoeg.

Die mans word ook daarvan beskuldig dat hulle in Junie 2013 Bheki Lukhele, die broer van ʼn man wat met 25kg tik verdwyn het, by sy huis in Katlehong ontvoer en aangerand het. Die man, slegs bekend as “Doctor”, sou hulle glo help om die dwelms uit die land te smokkel. Die mans word daarvan verdink dat hulle Lukhele by Krejcir se Money Point-besigheid in Bedfordview in Johannesburg vir vier dae lank aangehou en hom aangerand het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.