Nog ʼn verdagte vas ná Komatipoort-plaasmoord

Deon de Bruyn.

ʼn Sesde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Deon de Bruyn (25), ʼn boer van Komatipoort.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het bevestig die verdagte het Maandag vlugtig in die Komatipoort-landdroshof in Mpumalanga verskyn.

Hy moet weer Vrydag saam die ander vyf beskuldigdes, Derrick Makamo (24), Rawun Mhlanga (28), Sifiso Madonsela (33), Solomon Msimango (33) en Oscar Chauke (36), in die landdroshof verskyn. Die beskuldigdes word van moord en poging tot moord aangekla.

Susan de Bruyn, Deon se ma, het aan Maroela Media gesê haar man en ander seun het intussen die naweek ʼn kruis vir Deon gaan oprig by die Witkruismonument suid van Polokwane ter nagedagtenis van vermoorde plaasboere.

Die kruis vir Deon

De Bruyn het ook ʼn beroep gedoen op die gemeenskappe van Komatipoort en die omgewing om Vrydag na die hof op te ruk. “Ek doen dit nie net vir my seun nie, maar vir die gemeenskap. Ons moet as ʼn gemeenskap opstaan en wys dat ons dit nie sal duld in ons omgewing nie.”

Deon is op 17 Junie op ʼn plaas naby Komatipoort doodgeskiet. Hy het saam met Estelle Jansen (59), wat vir hom soos ʼn “tweede ma” was, op die plaas Simonsvlei met suikerriet, mango’s en groente geboer.

Estelle was in haar kamer toe ʼn man skielik te voorskyn gekom het. Volgens De Bruyn het Estelle met die aanvaller begin stoei en is hulle by die kamerdeur uit. Deon is net bokant die hart getref en Estelle is drie keer geskiet.

Die eerste vyf beskuldigdes is kort ná die voorval in en om Tonga vasgetrek.

De Bruyn het vroeër gesê Deon was ʼn “jong boer in murg en been”. “Hy was ʼn familiemens. Hy het nie regtig gekuier nie en sy huismense was vir hom baie belangrik. Hy het ʼn passie gehad vir landbou en was mal oor visvang.”

Deon laat ook sy pa, Deon sr., broer, Dirk (24), suster, Amerelda Pohl (27), en ouma, Alida Coetsee, agter.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pop ·

g
Gaan ondersteun die arme ma by die hof in julle duisende. Ek is te ver.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.