Nog ʼn verdagte vas ná Lephalale-plaasmoord

Die Hyundai H1-voertuig waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

Die Hyundai H1-voertuig waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

Nog ʼn verdagte is in hegtenis geneem nadat Pieter Hendrik Pieterse (57) op 6 Februarie in die vroeë oggendure op ʼn plaas in die Lephalale-distrik (Ellisras) in Limpopo vermoor is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die 35-jarige verdagte is Donderdag by Steenbokpan buite Lephalale in hegtenis geneem. Volgens Ngoepe word die verdagte met ʼn reeks ander huisbrake en diefstalsake die afgelope paar maande verbind.

“Die verdagte is in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het oor die diefstal van ʼn voertuig twee dae gelede in Marapong. Die verdagte het na bewering ʼn Hyundai H1-voertuig gesteel en die voertuig het Donderdag langs die pad onklaar geraak. Die polisie het hom daar in hegtenis geneem en op die gesteelde voertuig beslag gelê,” het Ngoepe gesê.

Die verdagte sal Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord en motordiefstal.

Maroela Media het vroeër berig Pieterse is in die vroeë oggendure in sy huis oorval en met ʼn swaar voorwerp aangerand. ʼn Kluis met twee vuurwapens, twee selfone en ʼn wit Isuzu-bakkie is gesteel.

ʼn Familielid het later op Pieterse afgekom en met hom na die hospitaal gejaag. Hulle het op pad na die hospitaal die ambulans van voor teëgekom, maar Pieterse is dood voordat hy by die hospitaal kon uitkom.

Twee verdagtes is kort ná die aanval in hegtenis geneem en nog drie is later aangekeer. Ngoepe het egter gesê nadat die polisie die drie verdagtes ondervra het, is twee vrygelaat omdat hulle nie met die aanval verbind kon word nie.

Phineas Molangoane (36), Joel Matshaba (34) en Thapelo Motsamai (22) het intussen in die hof verskyn en die saak is tot 6 Maart uitgestel. Hulle is steeds in polisieaanhouding. Ngoepe het gesê dit is nog nie duidelik of nog inhegtenisnemings verwag word nie en die polisie se ondersoek sal dit bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amanda Landman ·

Ek hoop die Ellisras gemeenskap ruk in groot getalle Maandag op na die hof…SOLIDARITEIT!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.