Nog ʼn verdagte vas ná ontsnapping uit Gauteng-hof

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie het nog een van die verhoorafwagtende verdagtes wat uit die Lenasia-landdroshof se aanhoudingselle ontsnap het in hegtenis geneem, met drie wat steeds soek is.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê Johnson Leroy is Woensdag in Eldoradopark in hegtenis geneem. “Hy is deur lede van die Soweto se honde-eenheid in hegtenis geneem nadat inligting van die publiek ontvang is. Drie verdagtes is steeds soek.”

Leroy en ses ander gevangenes het op 8 Junie ontsnap nadat hulle in die hof verskyn het op aanklag van roof met verswarende omstandighede. Die gevangenes het glo die polisiebeamptes wat by die selle aan diens was oorrompel en die deur afgebreek om te ontsnap. Hulle het verskyn vir misdade wat in Lenasia, Eldoradopark en Ennerdale gepleeg is.

Mpho Ramatsoale is op 9 Junie in Ennerdale weer in hegtenis geneem terwyl Luvesh Veerasmy en Brendon Paul by hul huise in Lenasia vasgetrek is. Die polisie is steeds op soek na Romeo Beukes, Dumisani Selepe en Thabiso Sebelwane.

Dlamini het die publiek gewaarsku om nie die verdagtes te konfronteer nie maar eerder die polisie te ontbied indien hulle gewaar word. Volgens Dlamini word ‘n interne ondersoek gedoen om vas te stel hoe die verdagtes ontsnap het en of enigiemand hul moontlik bygestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

scalla ·

Bestaan daar nie meer voetboeie nie of weet hulle nie hoe om dit te gebruik nie?

CHRISTA ·

Watter deur het hulle afgebreek om te ontsnap? Was dit ‘n seldeur? Hoe kon hulle ‘n deur afbreek sonder dat ander polisielede die lawaai hoor? Dit klink nie vir my so reg nie – ek ruik ‘n muishond!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.