Nóg ʼn verdagte vas na oudskoolhoof se moord

Gona en Logan Pillay. Foto: Facebook

ʼn Tweede verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Gona Pillay (63), ʼn oudskoolhoof van Silverglen, Chatsworth, in KwaZulu-Natal.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 30-jarige verdagte is Saterdagaand in die Umbumbulu-gebied in hegtenis geneem. “Hy sal in die hof verskyn sodra hy aangekla is,” het sy gesê.

Die eerste verdagte, ʼn 24-jarige man, is Donderdag in hegtenis geneem. Gwala het vroeër gesê daar is tydens die inhegtenisneming op die vermoedelike moordwapen en die Pillay-egpaar se motor, wat tydens die aanval gesteel is, beslag gelê.

Maroela Media het vroeër berig Pillay en haar man, Logan (67), is Woensdag omstreeks 19:00 deur vier verdagtes in hul huis oorval en verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek. Die verdagtes het die huis, wat te koop is, binnegekom onder die voorwendsel dat hulle na die huis wou kyk.

Pillay is op die toneel dood, terwyl Logan in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas is.

Plaaslike media het Vrydag berig die eerste verdagte wat in hegtenis geneem is werk as ʼn intern by ʼn bekende eiendomsmaatskappy. Die polisie wou egter nie oor hierdie bewering kommentaar lewer nie.

Pillay was ʼn voormalige skoolhoof by die Southlands Secondary School.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

andre ·

Die kriminele skroom nie om by ‘n organisasie in diens geneem te word om toegang te verkry om misdaad te pleeg nie. Waarheen is ons op pad in Suid Afrika?

Robby ·

Ag nee man. Om deesdae jou huis privaat te verkoop is mos nou onverantwoordelik. Jou beste advies is om dit vir ʼn geregistrede agent te gee om te verkoop. Ons het van ʼn geval gehoor waar ʼn eiendoms agent verkrag en aangeval was tydens ʼn besigtiging van ʼn perseel. Deesdae werk die eindoms agente en die SAP saam. Daar is teveel opertuniste daarbuite. Oppas mense. Trust no one.

SARIE VAN HEERDEN ·

Tydmors om kommentaar te lewer want niemand kyk eens daarna en die moord en doodslag duur onverpoosd voort. Mens hoor net nooit weer wat die uitslag van die ondersoek was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.