Nóg ʼn verdagte vas ná transitorooftog

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn 36-jarige man wat na bewering in Januarie betrokke was by ʼn transitorooftog in Kathu verskyn na verwagting vandag (Woensdag) in die Kathu-landdroshof in die Noord-Kaap.

Dié verdagte het saam ʼn swaar gewapende groep mans ʼn veiligheidsbeampte op 20 Januarie oorval toe hy geld by die Kathu-winkelsentrum wou gaan afhaal. Die polisie kon aanvanklik net een van die rowers vastrek. Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, is daar eindelik ná maande se ondersoek nóg ʼn verdagte Maandag in hegtenis geneem. Dié verdagte is in Taung in Noordwes opgespoor.

Maroela Media het vroeër berig dié groep rowers het die veiligheidswag met ʼn geweer en pistool voorgekeer. Hulle is daarna met ʼn onbekende bedrag kontant in ʼn voertuig vort.

Mnisi sê die polisie se taktiese reaksie- eenheid het die rowers se voertuig agternagesit. Die reaksie-eenheid, wat bestaan uit Kimberley se blitspatrollie, die polisie se openbare orde-eenheid (Pops), die Kathu- en die Postmasburg SAPD, Kimberley se lugvleuel en die Valke, het een van die verdagtes, Karabo Moshweshwe (37), vasgetrek. Die res van die groep het weggekom.

Moshweshwe het intussen al verskeie kere in die hof verskyn en sy poging tot borgtogaansoek was tot dusver onsuksesvol.

Die oorblywende verdagtes is steeds op vrye voet.

Intussen verskyn ʼn 29-jarige man ook Woensdag in die Kuruman-landdroshof vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Dit volg nadat hy betrokke was by minstens agt huisbrake in die Kuruman-area in die Noord-Kaap.

Mnisi sê dié man is Dinsdagoggend tydens ʼn multidissiplinêre operasie deur die Valke, die misdaadintelligensie-eenheid, Kuruman-polisie se honde-eenheid en die polisie se taktiese reaksie-eenheid vasgetrek.

In April het die polisie op vier vuurwapens in die verdagte se huis afgekom. Mnisi sê die polisie het daarna op nog twee vuurwapens beslag gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Scalla

Inside job, die medepligtiges is mos bekend aan die vasgetrekte verdagte, laat hy sing en hul uitbring!!!