Nóg ʼn verdagte vas oor G4S-rooftog

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

ʼn Sesde verdagte is Woensdag in hegtenis geneem in verband met ʼn rooftog in Mei by die sekerheidsmaatskappy G4S se tak in Kimberley.

Conrad Christopher Buys (25) het Donderdag in die hof verskyn in verband met sy beweerde betrokkenheid by die rooftog. Intussen het die ander vyf verdagtes, waarvan twee polisiebeamptes is, ook apart in die hof verskyn.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê sers. Samuel Jantjies (45), konst. Hendrik Daniels (35), Jennifer Claasen (46), ʼn werknemer van G4S ten tyde van die rooftog, Densel Deon Jantjies (35), sers. Jantjies se broer, en Jean Pierre Wolfaard (26) is almal verlede week in hegtenis geneem. Daar is tydens die inhegtenisneming op meer as R1,4 miljoen beslag gelê.

Maroela Media het vroeër berig die rooftog het omstreeks 19:00 op 6 Mei plaasgevind toe drie gewapende mans toegang tot G4S se perseel gekry het. Hulle het ʼn veiligheidswag, wat nou een van die ses verdagtes is, vasgebind en met ʼn dienspistool en kontant gevlug.

Die saak is tot 8 Augustus uitgestel wanneer al ses verdagtes om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hester ·

Maroela Media is vir my ‘n agtermekaar “koerant”! Geen sensasie berigte nie en feite word pragtig aan die lesers deurgegee. Alles wat mens wil lees kom ook lekker vinnig op, geen rompslomp nie! Baie dankie – hou so aan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.